Central SA
Buurtwagte speel groot rol in misdaadbekamping─── HEIDRÈ MALGAS 15:06 Thu, 20 Jun 2024

“Hulle verseker die veiligheid van die dorp se inwoners deur eerste op ’n toneel te wees en die nodige te doen.”
Almal wil veilig in hul buurt voel en om ’n buurtwag te hê, maak mense bietjie meer gerus.
“Buurtwagte speel ’n baie belangrike rol in die bekamping van misdaad in ons woonbuurte. Hulle is die oë en ore van die polisie op grondvlak en tree self op waar die polisie hulp nodig het,” sê Johan Potgieter, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-buurtwag.
‘Hulle verseker die veiligheid van die dorp se inwoners’
Die primêre doel van AfriForum Buurtwagte is om binne die wet alles self te doen waar nodig. Hulle verseker die veiligheid van die dorp se inwoners deur eerste op ’n toneel te wees en die nodige te doen.
Die soort misdade wat meestal in woonbuurte gepleeg word, sluit in betreding, beskadiging van onbewoonde huise, gebruik van huise vir dwelmsmokkelary en skuiling van ongewenste elemente, kabeldiefstal, voertuigdiefstal, en buitelanders wat handel dryf in onwettige produkte.
Lede van Sasolburg se buurtwag. Foto: AfriForum
“Ons kyk na alles wat die polisie op die tafel plaas en ons as Sasolburg AfriForum Buurtwag het ’n baie goeie verhouding met ons plaaslike SAPD en CPF. Meeste patrollies gaan gepaard met aksies van die SAPD,” sê hy.
’n Groot persentasie dwelmhandelaars word vasgetrek danksy inligting wat buurtwagte deur waarneming aan die SAPD oordra, waarna ’n operasie in samewerking met die plaaslike SAPD uitgevoer word, met groot suksesse.
“Ons skep kanale vir die gemeenskap om noodoproepe vinnig deur te gee, leer hulle hoe om in ’n noodgeval op te tree om hul eie veiligheid te verseker en laat ons toe om in hul omgewing op te tree teen oortreders,” sê hy.
‘Natuurlik is daar finansiële uitdagings’
Finansiering van toerusting en opleidingsmateriaal kom uit AfriForum-lede se maandelikse bydraes wat plaaslik en nasionaal aan AfriForum betaal word. Brandstof en voertuie word deur buurtwag-vrywilligers self betaal, wat daartoe lei dat elke buurtwaglid sy deel met passie uitvoer en trots is op wat hulle doen.
“Natuurlik is daar finansiële uitdagings. Ons dorp het 38 buurtwaglede en daar kom gereeld nuwe lede by. Om vir almal die nodige veiligheidstoerusting, sakke en radio’s te verskaf, is ’n groot uitdaging, veral in ’n klein dorp soos Sasolburg,” sê hy.
Die buurtwag het ’n noodkanaal om lede uit te roep vir noodgevalle, waarna hulle per radio uit voertuie kommunikeer. So kry elke lid sy opdrag in geval van nood.
Buurtwaglede speel ’n belangrike rol in gemeenskappe. Foto: AfriForum
Buurtwaglede word opgelei om verskillende take te verrig en word ook op daardie gebied ingespan. Soos wat noodtoestande ontwikkel, word veiligheidsmaatreëls getref – van optrede deur lede tot mediese dienste wat saam met die lede na tonele uitgaan.
Deesdae is die diefstal van onder meer hekmotors en batterye aan die toeneem weens dwelmgebruik onder werklose mense wat geen heenkome het nie.
“AfriForum Buurtwag is besig met ’n projek waar ons die inwoners vra om hul inligting by ons gemeenskaplike operasionele sentrum op ’n lys te plaas. Daagliks is daar lede wat die lys neem en dan die hekmotors en batterye graveer met ’n kode en nommer wat deel van die erf nommer bevat.
“Daardie data word dan elke aand op ’n program gespeel. Nou kan elke hekmotor of battery wat gevind word, gekoppel word aan ’n adres,” sê hy.
OFM Nuus/Heidrè Malgas dg