On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Man van Bultfontein kry lewenslank ná hy sy vrou vermoor

───   HEIDRÈ MALGAS 11:20 Fri, 21 Jun 2024

Man van Bultfontein kry lewenslank ná hy sy vrou vermoor | News Article

“Selfs toe sy geval het, het hy aangehou om die hulpelose vrou in die teenwoordigheid van hul minderjarige kinders aan te val.”

’n Man van Bultfontein is in die hooggeregshof in Bloemfontein tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou.

“Mokhereke Mozangwa (33) het sy vrou, Mating Sinah Lebolonyana, op 6 Augustus verlede jaar in die teenwoordigheid van hul kinders doodgemaak ná ’n rusie,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. Hy het tydens die stryery ’n bierbottel gebreek en begin om sy vrou daarmee te steek. Hy het daarna ’n mes geneem en haar verskeie kere gesteek waar hy ook al kon – altesaam 18 keer.

“Selfs toe sy geval het, het hy aangehou om die hulpelose vrou in die teenwoordigheid van hul minderjarige kinders aan te val,” sê Senokoatsane. Die polisie is ontbied en hy is in hegtenis geneem.  

‘Sy het in 2022 ’n beskermingsbevel teen hom gekry’

Lebolonyana het na die kinders omgesien op ’n plaas naby Bultfontein. Mozangwa het voorheen sy vrou mishandel en sy het in 2022 ’n beskermingsbevel teen hom gekry.

Tydens die vonnisoplegging het adv. Dansi Mpemvane gesê hy het geen berou getoon nie. Hy het ook min respek vir die wet omdat hy aangehou het om sy vrou te mishandel selfs toe hy geweet het sy het ’n beskermingsbevel teen hom bekom.

Die hof het ook gehoor hoe hy haar voorheen met ’n voorwerp gesteek het en dat sy die sake by die polisie aangemeld het, maar later weer teruggetrek het. Die lykskouingsverslag is aan die hof voorgelê wat aangedui het dat die slagoffer beserings oor haar hele liggaam opgedoen het.


Die man was in aanhouding tot die saak afgehandel is. Foto verskaf

Hy is vir die oortreding van die beskermingsbevel tot twee jaar en vir die moord tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Die NVG hoop dat sulke vonnisse vir naasbestaandes van geslaggeweldslagoffers ’n mate van geregtigheid en afsluiting sal bied aangesien die oortreders van hierdie gewelddadige misdade uit die gemeenskappe verwyder word.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.