Central SA
Vermiste ondersteuningshond ná amper twee weke gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:49 Fri, 21 Jun 2024
“Rico is by die veearts met beserings aan verskeie dele van sy liggaam. Hy het ook wurms en ’n oogontsteking, maar ‘hy gaan oukei wees‘.”
Sy was nog nooit in haar lewe so bly en dankbaar soos vandag nadat sy haar hond, wat sedert 5 Junie vanuit haar erf in Brakpan-Noord op Gauteng se Oos-Rand weggeraak het, teruggekry het nie.
’n Emosionele Mienkie Barker vertel Rico, ’n sniphond, is Woensdag (19/6) deur ’n plaaslike werker in die omgewing gekry. Die werker het Rico Maandag (17/6) vir die eerste keer tussen die riete by die skietbaan hoor huil terwyl hy op pad werk toe gestap het en Barker dadelik in kennis gestel.
“Ek het in my motor gespring en na die skietbaan gehaas, maar ná ure se gesoek kon ek hom nie kry nie.”
Die volgende dag het die werker weer die gehuil gehoor en hy was vasbeslote om die hond te kry. Hy het ná werk die riete deursoek en Rico sopnat en uitgeput gekry. Die werker en ’n vriend het Rico uit die riete gehaal en hom na die werker se huis geneem.
Die weldoener het egter nie ’n foon gehad nie en kon Barker nie kontak nie. Hy het ook die pamflet verloor wat Barker aan die mense in die omgewing uitgedeel het waarop haar nommer was. Barker is Vrydagoggend (21/6) deur die werker van iemand anders se foon gebel.

Barker en Rico. Foto verskaf
“Ek het die werker by die vulstasie opgelaai, en ons het na sy huis in ’n nedersetting sowat ’n kilometer van my af gery,” vertel Barker. “Toe het hy Rico toegedraai in ’n kombers uitgebring met net sy pote wat uitsteek, het ek dadelik my hond herken en in trane uitgebars.”
Barker was die afgelope paar jaar deur diepe waters en het ’n kaping, motorongeluk, rooftog en die amputasie van een van haar arms deurgemaak, “maar Rico was deur alles by my”.
Rico is tans by die veearts met beserings aan verskeie dele van sy liggaam. Hy het ook wurms en ’n oogontsteking, maar “hy gaan oukei wees”, het Barker in trane gesê.
Barker was in die hospitaal toe Rico weggeraak geraak het. Toe haar familie Rico daardie aand nie kon kry nie, het Barker Sondag 9 Junie die hospitaal verlaat om te soek na haar geliefde hond, wat al tien jaar deel van haar lewe is.
’n Barmhartige samaritaan [sic] het intussen ook die polisiehonde-eenheid betaal om na Rico te soek. Hoewel die polisiehond Rico se reuk tot by die skietbaan opgespoor het, het hy daar vasgesteek.
Die werker wat Rico gekry het, sal Vrydagmiddag ’n beloning van R5 000 ontvang.
