On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-seun (11) se tweelingsussie geskikte beenmurgskenker

───   HEIDRÈ MALGAS 09:56 Sat, 22 Jun 2024

Klerksdorp-seun (11) se tweelingsussie geskikte beenmurgskenker | News Article
Bloedkanker is verlede jaar by Chris Grobler (11) gediagnoseer. Foto verskaf

“Sy het hom versorg soos ’n klein troeteldier — sy het feitlik alles vir hom gedoen om sy gemak te verseker.”

Bloedkanker is verlede jaar by ’n seun van Klerksdorp, Noordwes, gediagnoseer. Dit het met lyfpyn begin, gevolg deur seer plekke wat moeilik genees het.

Chris Grobler (11) kon glad nie stil sit nie en moes rondbeweeg om van sy pyn ontslae te raak. Sy bene en arms was chronies lam, en hy het blou kolle oor sy hele liggaam begin kry van geringe stampe.

“Ons gesin se hele lewe het onmiddellik tot stilstand geruk. ’n Mens voel hulpeloos, en ons uitkyk op die lewe het oornag verander,” sê Chris se ma, Nelmarie Grobler.

Die tweelingboetie-en-sussie, Chinel en Chris Grobler. Foto verskaf

Chris is een van ’n tweeling. Sy sussie, Chinel, is ’n geskikte skenker vir ’n beenmurgoorplanting. Sy ma is ook een van ’n tweeling en het ’n tweelingbroer.

Nelmarie sê Chris se eerste chemobehandeling was hartverskeurend. Die baie inspuitings en prosedures was oorweldigend, en hy was paniekerig oor al die naalde. Hy was duidelik baie bang en skrikkerig, maar tans hanteer hy dit baie beter.

Chris met sy rugby spanmaats. Foto verskaf

Die grootste uitdaging vir die gesin is dat hul persoonlike lewe oornag verander het. ’n Mens kyk nou anders na elke situasie en is genoodsaak om alles anders te hanteer as wat hulle gewoond was. Finansieel het dit ’n aansienlike impak gehad, wat veroorsaak het dat normale dinge agterweë gelaat moes word om spasie te maak vir Chris se mediese behoeftes.

Chris hou baie van rugby, maar oornag het hy ’n ander seun geword. “Ek sê baie dat hy ons as ouers dikwels help rigting aanwys. Hy het binne oomblikke volwasse geraak, en sy siening op die lewe het, in ’n sekere sin, positief en mooi geword vir ’n kind van sy ouderdom,” sê sy ma.

Chris leef vir sy rugby. Foto verskaf

Chris leef vir sy rugby en speel op stut. Hy het wel 30% van sy longfunksie verloor, maar gebruik ’n asmapompie om kortasemheid te verlig. Hy bedank sy afrigters dat hulle, ten spyte van sy siekte, hom ’n 100%-kans gegee het om sy rugbydroom uit te leef. Hulle ondersteun hom steeds in hierdie droom.

Toe dit bekend word dat haar tweelingbroer kanker het, was daar baie trane en emosies vir Chinel. “Sy het hom versorg soos ’n klein troeteldier — sy het feitlik alles vir hom gedoen om sy gemak te verseker. As ’n geskikte skenker het sy trane van blydskap gestort en was onmiddellik bereid om die operasiesaal binne te gaan om haar boetie gesond te maak.”

Chinel is ‘n geskikte skenker vir Chris se beenmurgoorplanting. Foto verskaf

Nelmarie sê sy glo vas dat “ons Skepper en Hemelse Vader hom gaan genees van die kanker”. Mediese kundiges het wel gesê dat dit ’n chroniese kondisie is, maar sy voel diep binne haar gees dat hy ten volle sal herstel en daarvan sal kan getuig. “Boeta wil graag sy rugby tot op Springbokvlak vat en wil ook ’n vlieënier word — spesifiek vir helikopters.”

Chris se chemoterapie is op die hoogste vlak vir sy ouderdom. Hoewel die familie ’n mediese fonds het, kort hulle geld vir al die onkoste.

Chris het ’n BackaBuddy-bladsy waar mense donasies kan maak.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.