Central SA
Centlec maan publiek oor misleidende aanbiedings van sonkrag─── HEIDRÈ MALGAS 15:39 Mon, 24 Jun 2024
Centlec stel dit duidelik dat hierdie boodskappe vals en misleidend is.
Centlec, Bloemfontein se kragverspreider, is bekommer oor misleidende boodskappe wat die rondte doen op sosialemediaplatforms waar verbruikers afslag en besparings op hul elektrisiteitsrekeninge beloof word deur ongeregistreerde verskaffers.
“Hierdie verskaffers beweer dat hulle gratis sonkragpakkette aanbied wat klante kan help om hul verbruik te verminder, van die netwerk af te gaan, en beurtkrag en kragonderbrekings te vermy,” sê Lele Mamatu, Centlec-woordvoerder.
‘Centlec sê hierdie boodskappe is vals en misleidend’
Hy sê Centlec stel dit duidelik dat hierdie boodskappe vals en misleidend is. Hulle waarsku inwoners van Mangaung en ondernemings in hul voorsieningsgebied dat enige installasies van Kleinskaalse Ingebedde Opwekkings (KISO) stelsels deur Centlec goedgekeur moet word.
“Hierdie goedkeuringsproses verseker nakoming van Nasionale Regulerende Standaarde, toepaslike wetgewing, en verordeninge,” sê hy. Om aansoek te doen om goedkeuring van KISO-stelsels, moet inwoners of ondernemiings ’n gekwalifiseerde KISO-ontwerper en installeerder huur om die aansoek namens hulle in te dien.
Aansoekvorms is beskikbaar by Centlec se kliëntedienskantore, geleë by die Kragsentralegebou in Fortstraat. Slegs geskrewe aansoeke sal oorweeg word.
OFM Nuus het vroeër berig Centlec het besluit om met die Valke saam te werk om swendelaars vas te trek wat hulle as werknemers van die kragverskaffer voordoen.
‘Hulle word gedreig dat hul elektrisiteit afgesny sal word’
Die Mangaungse kragverspreider het verskeie klagtes ontvang verlede maand oor dié swendelaars wat na bewering inwoners bel, vir hulle sê daar’s met hul meterboks gepeuter en dan ’n boete van R3 000 eis. Hulle word gedreig dat hul elektrisiteit afgesny sal word as hulle nie die boete betaal nie.
Die gemeenskap word daaraan herinner om nooit kontantbetalings direk aan enigiemand te gee nie, aangesien Centlec-werkers nie toegelaat word om kontantbetalings van enige van hul kliënte te vra vir die dienste wat hulle lewer nie, sê Mamatu.
Inwoners word gewaarsku oor hierdie swendelaars wat hulle as werknemers voordoen en word versoek om nie te reageer op die dreigemente wat deur hulle gemaak word nie. Hierdie sogenaamde werknemers van Centlec kontak kliënte deur die selfoonnommer 077 283 5265 te gebruik.
OFM Nuus dg
