Central SA
Vrystater aangekeer vir meisie se mesdood─── HEIDRÈ MALGAS 15:42 Mon, 24 Jun 2024
Die verdagte het hom aan die polisie oorgegee toe hy om 18:00 hulp gevra het by die Kopanong-polisiekantoor.
’n Man van Kopanong in die Vrystaat is in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy meisie doodgesteek het.
“Die 39-jarige man en sy 35-jarige vriendin het Sondag gestry toe die man na bewering sy meisie verskeie kere met ‘n mes gesteek het,” sê Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Die verdagte het hom aan die polisie oorgegee toe hy om 18:00 hulp gevra het by die Kopanong-polisiekantoor.
Hy sê die man het beweer dat sy meisie gesteek is. Die polisie het vinnig gereageer en hulle na Winkie Direko Square gehaas waar hulle die vrou in ’n plas bloed aangetref het. “Die slagoffer het steekwonde aan haar gesig en liggaam opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” sê hy.
‘Hy is onder polisiebewaking in hospitaal opgeneem’
Verdere ondersoeke het gelei tot sy inhegtenisneming. Voordat hy egter in aanhouding geneem kon word, het hy siek geword en is hy onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem word.
Net verlede week is ’n onderwyseres van Bloemfontein vermoor en haar liggaam op die Dewetsdorppad gevind. “Judith Mpho Moalasi (41) se liggaam is deur polisielede van Bloemspruit met verskeie beserings gevind,” sê Kareli.
Die polisie het inligting opgevolg wat hulle na ’n huis in Fase 2 gelei het, waar die oorledene se kêrel woon. Die polisie het ook die oorledene se motor hier gekry.
Lede van Parkweg se taktiesereaksie-eenheid is na die toneel ontbied en hulle het haar kêrel onder sy bed gekry. Die verdagte (42) is in hegtenis geneem.
OFM Nuus dg
