Central SA
Vermiste vrou van Bloemfontein se liggaam geïdentifiseer─── HEIDRÈ MALGAS 15:29 Tue, 25 Jun 2024

"Hy het tydens die stryery ’n bierbottel gebreek en begin om sy vrou daarmee te steek"
Die liggaam van die vrou wat Maandag (24/6) naby die Kaizer Sebothelo-stadion in Botshabelo gevind is, is Dinsdag deur haar familie geïdentifiseer.
“Die vrou is uitgeken as Tsholofelo Sonia Rowles (23) van Turflaagte in Bloemfontein. Haar ma het gesê sy het haar dogter Saterdag laas gesien. Sy het by ’n vriendin gaan kuier, maar nooit teruggekeer nie,” sê Sinah Mpakane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Die familie het Tsholofelo daarna as vermis by die polisie aangemeld. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek nog die saak.
‘Hy het ’n mes geneem en haar verskeie kere gesteek’
In ’n afsonderlike voorval is ’n man van Bultfontein in die hooggeregshof in Bloemfontein tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou.
“Mokhereke Mozangwa (33) het sy vrou, Mating Sinah Lebolonyana, op 6 Augustus verlede jaar ná ’n rusie in die teenwoordigheid van hul kinders om die lewe gebring,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Hy het tydens die stryery ’n bierbottel gebreek en begin om sy vrou daarmee te steek. Hy het daarna ’n mes geneem en haar verskeie kere gesteek – altesaam 18 keer.
“Selfs toe sy geval het, het hy aangehou om die hulpelose vrou in die teenwoordigheid van hul minderjarige kinders aan te val,” sê Senokoatsane. Die polisie is ontbied en hy is in hegtenis geneem.
OFM Nuus dg