Central SA
Op 86 sien dominee uit na voltydse bediening in Noord-Kaapse gemeente─── ELSABÉ DE JAGER 11:36 Thu, 27 Jun 2024
“Deur al hierdie jare het ek beleef hoe die Here sorg vir die pad van die regverdige.”
“Passie en roeping is onlosmaaklik vervleg. Roeping, wat klink soos krygsmusiek in die ore van ’n gelowige, word met passie volvoer.”
Só verduidelik die Gereformeerde predikant dr. Frans de Bruyn (86) die oorgawe waarmee hy die bedieningspad reeds sedert 1964 loop, terwyl hy rustig in die Vrystaatse wintersonnetjie vertel van nuwe horisonne wat op hom wag.
Op 7 Julie word hy in die Gereformeerde Kerk Vaalharts op Hartswater verwelkom as emeritus predikant waar die volle spektrum van die bediening op hom wag, van preek en kerkraadsvergaderings lei tot huisbesoek en katkisasie. Prof. Fika van Rensburg (73), voorheen van die PUK, sal die verrigtinge lei.

Frans de Bruyn, toe hy in 1961 die vierde jaar agtereenvolgens gekies is as sekretaris van die PU vir CHO se studenteraad. Hy is ’n oudleerder van die Potchefstroom Gimnasium. Foto: Die Wapad
De Bruyn se leraarsroeping het hom en sy gesin ver paaie laat loop, van Silverton (1964–1967) na Gobabis in die destyds Suidwes (1967–1969) tot op Zastron (1969–1971). Die daaropvolgende 32 jaar bedien hy Klerksdorp-Wes (1971–1995) en daarna Klerksdorp, waar hy in 2003 sy emeritaat aanvaar het. “En deur al hierdie jare het ek beleef hoe die Here sorg vir die pad van die regverdige,” getuig hy.
Ná 60 jaar in die bediening leef dié predikant, wie se ouderdom meer as agt dekades op die kalender aandui, steeds sy passie “met liefde, oorgawe en toewyding” uit. Ná sy aftrede was hy as predikant jare lank behulpsaam in Namibië, waarna hy in 2016 as hulpdiensleraar terugkeer na GK Bloemfontein-Noord. Van 2019 af het hy GK Ladybrand voltyds as emeritus predikant uit Bloemfontein bedien.
‘Ek hanteer hartseer in my binnekamer, waar ek voor die Here huil’
Gevra of hy enige hoogtepunte van sy bediening kan uitsonder, antwoord De Bruyn sonder om te aarsel: “Terwyl ek my roeping vervul, streef ek nie na hoogtepunte nie. Groot en klein gebeurtenisse kan álmal hoogtepunte wees. Vir my bly die ingrype van die Here in ’n lewe die grootste hoogtepunt.”
Die gesprek lei na die gewone menslike aspekte van predikantwees. Hoe oorkom hy hartseer, byvoorbeeld? “Ek hanteer dit in my binnekamer, daar waar ek voor die Here huil. My huil is ’n roep, ’n uitlaatklep om ook in my róéping vorentoe te beweeg. Om sélf te huil beteken ook dat ek empatie vir my medemens in sy tyd van swaarkry kan toon.”
En nou, ná agt jaar terug in Bloemfontein, die stad waar hy ook sy eerste vrou, Villieria, in 1957 leer ken het, pak De Bruyn op om GK Vaalharts te gaan bystaan.

Die Gereformeerde Kerk Vaalharts op Hartswater in die Noord-Kaap. Foto verskaf
Hy sien die tyd wat in die Noord-Kaap op hom wag as ’n voortsetting van sy roeping, dié roeping wat hy DV met dieselfde passie sal volvoer as die afgelope 60 jaar. Hy doen dit met ywer, met die krag van ’n veel jonger man. “Die gereelde oefentye op my fiets en die daaglikse afstande wat ek steeds hardloop, toon goeie resultate in hierdie besige tyd,” skerts hy.
“Daar is ’n rede waarom ek na Hartswater toe moet verhuis in hierdie laat stadium van my lewe; daarom maak die vooruitsig my opgewonde,” vertel De Bruyn. Hy is vas oortuig dat hy “baie jare daar in die Noord-Kaap nog in die Here se diens gaan staan”.
