On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat Kunstefees begin in Bloemfontein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Wed, 03 Jul 2024

Vrystaat Kunstefees begin in Bloemfontein | News Article
Elzabé Zietsman en Reynhard by haar stalletjie. Foto: Charne van der Merwe

“Teatergeesdriftiges, musiekliefhebbers en kranige lesers in die Vrystaat kan vanjaar uitsien na talle produksies op die fees.”

Die jaarlikse Vryfees Kunstefees het Maandag (1/7) afgeskop met verskeie produksies, en Dinsdag (2/7) was die amptelike opening van die kosmark. Dit is vanjaar die 25ste keer dat dié kunstefees in Bloemfontein gehou word.

Teatergeesdriftiges, musiekliefhebbers en kranige lesers in die Vrystaat kan vanjaar uitsien na talle produksies by die fees. Die bekroonde aktrise Sandra Prinsloo en skrywer-akteur David Viviers tree op in die toneelstuk Op die hoek van Styxen River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan.

Die Binnelanders-akteurs Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz se toneelstuk is ook in die komende week te sien.

‘In Daarom skryf ek vertel Anna Davel meer van die ontstaan van van haar eie liedjies’

Die TV-aanbieder Hannes van Wyk, bekend vir sy programme Kwêla en Hannes aan Huis, keer terug met sy geselsprogram waar hy met van die grootste name in die vermaaklikheidsbedryf onderhoude sal voer, onder wie akteurs, musikante, dansers en komediante hul stories, insigte en geheime met hom sal deel.

Tobie Cronjé se gedramatiseerde voorlesing en verwerking van Hans gee Herklaas horings beloof om gehore te laat skaterlag.

Musiekliefhebbers kan na produksies van Amanda Strydom, André Swartz en die pianis Rocco de Villiers uitsien. In die produksie Daarom skryf ek vertel Anna Davel meer van die ontstaan van sommige van haar eie liedjies. Drie van die bestes, Danie Niehaus, Mathys Roets en Germandt Geldenhuys, is saam te sien op een verhoog, en nog vele meer.

‘Die fees maak ook voorsiening vir die jongspan’

Die Blêrkas sal oud-Bloemfonteiner Zaan Sonnekus vir die eerste keer by die fees verwelkom. Brendan Peyper is egter geen vreemdeling by die fees nie en Glaskas sal ook optree.

Die fees maak ook voorsiening vir die jongspan met opvoerings soos Hans Haas en sy dieremaats, Liewe Heksie vang vis, Avonture van Robin Hood en Babah Goes Wild vir die kleingoed.

Elzabé Zietsman gaan nie net op die planke wees met Vier Panado's en ’n chardonnay, asook haar solo-vertoning Routrip nie. Sy en haar regterhand, Agnes Ndweni, is terug met hul stalletjie, Zietsies, wat heerlike beskuit, koekies en vanjaar ook slaapklere verkoop. Die Bravo!-aanbieder, Reynard Slabbert, verkoop ook sy handgemaakte tamatie-, roosmaryn- en brandrissiekonfyt by die stalletjie.

Boet Schoeman, ’n nasionale Mampoerkampioen van Potchefstroom, het in 1992 mampoer begin distilleer en die produk Schoemanati (die woord “monati” afgelei van die Tswana-woord “lekker”) genoem.

Johan Cilliers is die trotse skrywer en verteller van Kraakvars Kinderstories. Die gewildste kinderstories, met ‘n kinkel, kan nou op ‘n geheuestokkie gekoop word.

Sy skilder onder die naam Ester, wat die Here vir haar gegee het. Elke skildery het ’n spesifieke boodskap wat ook deur die Here aan haar gegee word.

Ronel van Biljon het die Spotliiiz-produkte begin nadat sy nie die regte waspoeier kon kry vir haar wassery nie. Sy spog vandag met vele ander skoonmaakmiddels wat sy self maak.

Pieter Delport het The Pink Bar slegs twee maande gelede begin, omdat hy gevoel het borskanker moet elke dag gevier word.

Epa! bied ’n bekroonde reeks vars, ongekookte, ongefermenteerde, natuurlik gepreserveerde Epa! Souse & Pesto/Pastes.

Summerwood Country Estate is vanjaar vir die 15de keer by die fees met hul lipleklekker restaurant, sê Dorothy van der Merwe-Strydom. Feesgangers kan ’n verskeidenheid van smaaklike lekkernye by die eksamenlokaal kom geniet soos watertand jaffels, quiches, morsige koeke, koeksisters, melktert en nog baie meer.

Daar is ook ‘n ete van die dag te koop en saans ‘n feestafel met Vrystaatse kookkos.

Angelique Strydom met Dinsdag se ete van die dag. Foto: Charné van der Merwe

Angelique en Christiaan Strydom met ’n heerlike melktert en crunchie-koek. Foto: Charné van der Merwe

Toegang tot die feesterrein op die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfontein-kampus is R30 per persoon per dag, of R80 vir ’n week lange toegangskaartjie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.