Central SA
Lae waterdruk byna ’n ramp tydens brande in Bloemfontein─── HEIDRÈ MALGAS 11:32 Sat, 13 Jul 2024

“Die swak waterdruk het nooddienste se taak baie bemoeilik, maar terwyl die munisipale brandweer water uit ’n swembad gebruik het, het die gemeenskap water aangery.”
Onvoldoende waterdruk in die brandkrane buite Bloemfontein het Donderdag (11/7) amper tot ’n ramp gelei toe ’n huis en oop velde in die Spitskop-omgewing naby Langenhovenpark gebrand het.
“Gelukkig was AfriForum se privaat brandweerdiens in Bloemfontein, AfriForum Brandweer, en die Mangaung-brandweer innoverend om te verhoed dat drie huise heeltemal vernietig word,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.
Drie aangrensende huise het Donderdagmiddag (11/7) in ligte laaie gestaan nadat ’n veldbrand ’n lapa en daarna drie wonings aan die brand gesteek het.
“Die swak waterdruk het nooddienste se taak baie bemoeilik, maar terwyl die munisipale brandweer water uit ’n swembad gebruik het, het die gemeenskap ingespring en gehelp om water aan te ry,” verduidelik Cooks.
Ten spyte van die uitdagings, het AfriForum Brandweer en die Mangaung-brandweer ná ongeveer vyf uur daarin geslaag om die brand finaal te blus.
Cooks sê Donderdag se brand het wonings redelike beskadig, maar nooddienste het daarin geslaag om te verseker dat die huise nie totaal vernietig word nie. Die vinnige optrede en goeie samewerking tussen AfriForum Brandweer en die plaaslike munisipale brandweerdiens het verseker dat die skade beperk is.
Wonings is redelik beskadig, maar nooddienste kon keer dat die huise nie totaal vernietig word nie. Foto verskaf
Die nuutgestigte AfriForum Brandweer, het vroeër die week ook vinnig gereageer toe ’n brand Sondag (7/7) by die Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein uitgebreek het. Die brand het omstreeks 15:20 buite die pediatriese eenheid begin toe bome aan die brand was en na die tweede verdieping versprei het. Altesaam 83 mense is uit die hospitaal ontruim en daar was geen ernstige beserings of sterftes nie.
“AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het vyf personeel en twee voertuie na die toneel gestuur – insluitend die ultra-hoogdruk eenheid en 'n ondersteuningsvoertuig.”
“Die AfriForum-buurtwagte en -brandweer het gehelp om pasiënte, personeel en besoekers uit die hospitaal te ontruim.”
Dié privaat brandweerdiens se personeel het ook twee mense uit die gebou gered toe die dik rook dit moeilik gemaak het vir mense om hul pad uit die gebou te vind.
Sy benadruk dat watervoorsiening ’n kritieke komponent in die lewering van brandweerdienste is en in sommige gevalle kan dit die verskil tussen lewe en dood beteken. AfriForum het onlangs ’n landwye brandkraanoudit onderneem om brandkrane se sigbaarheid, instandhouding en funksionering te bepaal.
Die volledige bevindinge van dié oudit sal binnekort bekend gemaak word.