On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Midvaal kry nog wiele vir beter veiligheid

───   ZENANDE MPAME 11:14 Mon, 15 Jul 2024

Midvaal kry nog wiele vir beter veiligheid | News Article
Midvaal kry nog wiele vir beter veiligheid. Foto verskaf

“Dit sal aansienlik help om voertuie te identifiseer wat in misdaad gebruik word.”

Om die gemeenskap veiliger te maak, beplan Midvaal-munisipaliteit om sy wetstoepassingstaakspan te begin wat nou met die polisie sal saamwerk.

Die munisipaliteit het sy vloot uitgebrei deur twee Ford Raptors by te voeg wat toegerus is met nuwe en gevorderde tegnologie om die veiligheid van alle inwoners en besoekers te verseker.

Die voertuie het kameras vir nommerplaatherkenning wat aan die munisipaliteit se beheerkamer sowel as die polisie se databasis gekoppel is.

Burgemeester Peter Teixeira en ’n lid van die Midvaal se eenheid vir openbare veiligheid. Foto verskaf

“Ons is trots daarop om geld te bestee op iets waaruit ons inwoners die meeste voordeel sal geniet, en hierdie uitbreidings sal verseker dat hulle veilig voel,” sê burgemeester Peter Teixeira. “Ons bly toegewyd daartoe om te belê in die veiligheid van alle mense in Midvaal.”

Die vloot sal in werking wees sodra al die betrokke lisensies uitgereik is en operasionele vereistes, soos die aanstelling van veiligheidsbeamptes, nagekom word.

“Die voertuie is ook toegerus met hommeltuie vir lugtoesig en sal ’n gewapendereaksie-eenheid wees,” sê Teixeira. “Dit sal ons vermoë verbeter om vinnig en doeltreffend op voorvalle te reageer.”

Die trekkers en grassnyers het R3,7 miljoen kos. Foto verskaf

Die munisipaliteit het in Januarie tien nuwe trekkers en vier gevorderde snyers aangeskaf om grassnyery en instandhouding in die gebied ’n hupstoot te gee. Die R3,7 miljoen-koste van die trekkers en snyers is uit die kapitaalbegroting betaal.

Die toevoeging van die trekkers het die totaal op 28 te staan gebring. “Die bekendstelling van hierdie nuwe vloot sal ’n deurslaggewende rol speel om enige agterstand in grassnyery dwarsoor Midvaal uit te wis,” het Texeira destyds belowe.

“Hierdie verkryging is ook daarop gemik om ons vermoëns te verbeter deur ’n belangrike aspek van munisipale instandhouding by ons grassnysiklus te voeg.”

‘Die boot is toegerus met radar- en sonartegnologie en nagvisiekameras’

Die munisipaliteit het in sy jongste aankoop ’n boot, Marine 1, vir Vaal Marina bygevoeg. Die boot is toegerus met radar- en sonartegnologie, en nagvisiekameras, en dit sal eksklusief op die Vaaldam werk in samewerking met die NSRI en die polisie se watervleuel.

“Hierdie belegging sal Vaal Marina ’n veiliger en aantrekliker toeristebestemming maak, veral gedurende die vakansieseisoen.”

Intussen vorder bouwerk aan die nuwe winkelsentrum by Meyerton fluks. Dit sal na verwagting volgende jaar voltooi word en skep 1 200 werksgeleenthede tydens die bouwerk en daarna sowat 250 permanente werksgeleenthede.

Die sentrum sal oor duisend parkeerplekke beskik. Foto verskaf

Business Tech berig die winkelsentrum van R370 miljoen sal 18 000 m² beslaan en kan sowat 53 kleinhandelhuurders hê, van wie de vernaamste Checkers Fresh-X, Woolworths Food en Dis-Chem sal wees. Ander vername huurders sal Clicks, Truworths, Mr Price en die Pepkor-groep wees.

Die sentrum sal oor duisend parkeerplekke beskik, ’n restauranthof en twee kitskosdeurry-afsetpunte.

OFM Nuus/Zenande Mpame

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.