On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Meer as 200 huise sal in Noord-Kaap gebou word ná hewige storms

───   KEKELETSO MOSEBETSI 13:32 Mon, 15 Jul 2024

Meer as 200 huise sal in Noord-Kaap gebou word ná hewige storms | News Article
Foto: Facebook

“Daar is 38 huishoudings geïdentifiseer wat aansienlike skade gely het.”

Meer as 200 huise sal na verwagting gebou word ná hewige storms wat talle mense dakloos gelaat het in die Namakwa-distrik en ander gebiede in die Noord-Kaap.

Die aankondiging is gemaak tydens ’n oorsigbesoek op Vrydag (12/7), gelei deur Bentley Vaas, Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, en Notobeko Vilakazi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling. Die oorsigbesoek se doel was om die skade te bepaal wat Sondag (7/7) deur die hewige storms aangerig is. Daar is 38 huishoudings geïdentifiseer wat aansienlike skade gely het.


“Wat ons kan rapporteer, is dat ons mense ten minste veilig is. Ons het dit reggekry om vir hulle iets warms te gee, kos, asook behoorlike komberse en verblyf. Dit is om seker te maak hulle is warm en veilig in hierdie moeilike tyd,” sê Vaas.

Hy het ook gesê meer as 200 huise word vanaf Donderdag (1/7) in die Namakwa-distrik gebou. Die projek sal na verwagting binne ’n jaar voltooi wees. Vaas erken daar is ’n agterstand met behuising.

“Ons weet daar is uitdagings, maar ons werk hard om te verseker dat ons hierdie uitdagings die hoof bied. Ons gaan ook die Kamiesburg-munisipaliteit besoek, asook Namakoi, waar mense ook deur swaar reënbuie geraak is. Ons wil ons mense aanmoedig om die nodige ondersteuning aan ons gemeenskapslede oor die provinsie heen te gee.” 

Minstens ses gesinne is by die Lenie Skippers-gemeenskapsaal geakkommodeer. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling verskaf maaltye deur ’n sopkombuis. Hulle bedien drie maaltye per dag aan hierdie gesinne en voorsien hulle van komberse en matrasse. Die breër gemeenskap ontvang ook een maaltyd per dag uit die sopkombuis.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg/dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.