On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Kragonderbreking eis lewe in Noordwes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:15 Tue, 16 Jul 2024

Kragonderbreking eis lewe in Noordwes | News Article
Ferdie Strauss. Foto: Facebook

“Alarms, hekmotors, kameras en stelsels het afgeloop en daar was geen selfoonseine nie. Ons was die hele naweek ook sagte teikens vir misdadigers. Nie almal in die dorp het kragopwekkers nie.”

’n Inwoner van Schweizer-Reneke in Noordwes het glo sy lewe verloor weens ’n kragonderbreking.

Ferdie Strauss (71) is Saterdag (13/7) in die vroeë oggendure oorlede weens ’n beweerde tekort aan suurstof. Die dorp was van Vrydagoggend tot Sondagaand sonder krag.

Esmé Venter, VF Plus-wykraadslid in Mamusa, sê ’n kortsluiting by Epeleng Vrydagaand omstreeks 19:15 het veroorsaak dat die krag by die hoofsubstasie afgeskakel het.

‘Dit was ’n tragiese en traumatiese dood’

“Die hoofkragstasie moes nou al opgegradeer gewees het. Eskom het ’n deel van Epeleng herstel, maar het geweier om ons substasie weer aan te skakel. Die rede daarvoor was dat daar reeds in Desember 2023 ooreengekom is dat Mamusa-munisipaliteit twee hoofstroombrekers sou vervang het.

“Eskom het Mamusa kans gegee tot einde Maart, maar hy het geen poging aangewend om aan hierdie vereistes te voldoen nie.”

Venter sê dit het gelei tot Strauss se dood. “Hy was bedlêend en afhanklik van suurstof. Waarom moes ons ’n inwoner verloor weens die munisipaliteit? Dit is onnodig.”

“Ferdi se dood kon voorkom gewees het as Mamusa-munisipaliteit die hoofstasie opgegradeer het. Dit was ’n tragiese en traumatiese dood vir inwoners.”


Volgens Venter is die gemeenskap aan die genade van die ANC-beheerde munisipaliteit oorgelaat. “Alarms, hekmotors, kameras en stelsels het afgeloop en daar was geen selfoonseine nie. Ons was die hele naweek ook sagte teikens vir misdadigers. Nie almal in die dorp het kragopwekkers nie.”

Sy sê die hospitaal het ook deurgeloop. “Dis ’n magtelose situasie. Die Schweizer-Reneke-staatshospitaal was vanaf Vrydag sonder diesel. Die hele dorp is siek van die griep, en ons sit met ou mense in ouetehuise.”

Venter het Maandag (15/7) ’n brief aan die speaker gerig en gesê dat die herstel en opgradering dringende aandag verg. “Ons dring ook daarop aan dat die verantwoordelike persoon aanspreeklik gehou word.”

Vincent Masilo, waarnemende munisipale bestuurder, wou nie met OFM Nuus praat nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.