On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Skolerugbyspeler sterf ná besering in Limpopo

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:45 Wed, 17 Jul 2024

Skolerugbyspeler sterf ná besering in Limpopo | News Article
Emmanuel Makwiting. Foto: Hoërskool Jeugland

“Die Jeugies het ’n vriend en ’n ‘broer’ verloor, maar die hemel het ’n engel gekry.”

’n Belowende rugbyspeler is dood nadat hy ’n ernstige besering in ’n skolerugbywedstryd opgedoen het. Emmanuel Makwiting (17), ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Jeugland in Kempton Park, het Maandag (15/7) gesterf nadat hy sy nek gebreek het.

Hy het Saterdag op die Hoërskool Pietersburg (PHS) in Limpopo se A-rugbyveld as die kaptein en flank van Jeugland se tweede rugbyspan uitgedraf. Die twee skole ding mee in die SDC Noordvaal-reeks.

Emmanuel is op die toneel gestabiliseer en per ambulans na die provinsiale hospitaal in Polokwane geneem, sê Michelle Schuman, adjunkhoof van Jeugland. “Die X-strale het gewys dat hy ’n nekfraktuur opgedoen het. Sy ouers is in kennis gestel, en sy pa, Robin, is dadelik na Polokwane ontbied.

“Robin en Neels Pole, die skool se sportdirekteur, is steeds daar om die finale reëlings ná sy dood te tref,” sê Schuman. 

Die Hoërskool Jeugland het PHS en die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning en bystand in hierdie moeilike tyd. “Die Hoërskool Pietersburg het gratis verblyf aan Robin gegee sodat hy naby sy seun kan wees.”

Shuman sê dis ’n ongelooflik moeilike tyd en ’n baie sensitiewe saak vir die skool. “Die Jeugies het ’n vriend en ’n ‘broer’ verloor, maar die hemel het ’n engel gekry. Die Hoërskool Jeugland betuig graag ons innige meegevoel met sy familie.”

Die skool hou Vrydag om 15:00 ’n gedenkdiens vir Emmanuel. 

Emmanuel was ’n talentvolle speler en is verlede jaar gekies om deel te wees van ’n skoolspan vir die Valke-rugbyunie. PHS en Jeugland het die wedstryd klaar gespeel en PHS het met 22–13 gewen.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.