Central SA
Pa, twee seuns van Kimberley kry lewenslank vir moord─── HEIDRÈ MALGAS 12:19 Wed, 17 Jul 2024

“Ná die aanranding het hulle die slagoffer gelos om te sterf.”
’n Pa en sy twee seuns is in die Kimberley-streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n man wat hulle vir ’n rower aangesien het.
“Clyde de Koker (24) en Neillon de Koker (30) was besig om ’n nagklub op 1 Desember 2019 te verlaat toe hulle deur drie mans genader is wat hul selfone en skoene gesteel het,” sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.
“Ná die rooftog het hulle huis toe gegaan en hul pa, Given de Koker (60), ingelig. Die drie het besluit om na die rowers te soek.”
Langs die pad het hulle ’n man gesien wat hulle beweer het een van die rowers was. Die drie mans het hom gewelddadig aangerand deur hom te skop, met ’n mes te steek en met ’n gholfstok te slaan, sê Senokoatsane.
‘Die aanval was vooraf beplan’
Ná die aanranding het hulle die slagoffer gelos om te sterf sonder om die gesteelde items terug te kry. Die pa en sy seuns is aangekeer nadat die polisie die saak deeglik ondersoek het.
“Tydens die verhoor het Dineo Mathule, staatsaanklaer, verklaar dat die aanval vooraf beplan was omdat die beskuldigdes hulle spesifiek vir die aanranding gewapen het.
‘Besittings is nooit by slagoffer gevind’
“Die vervolging het daarop gewys dat die beskuldigdes se besittings nooit by die slagoffer gevind is nie en die slagoffer se reg op lewe en waardigheid geskend is.”
Daar was geen versagtende omstandighede nie en die hof het hulle ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit kragtens art. 103 van die Vuurwapenbeheerwet.
“Ons kan nooit genoeg beklemtoon hoe waardevol ’n mens se lewe is nie; daarom sal die NVG in sulke sake vra vir die swaarste straf om as afskrikmiddel te dien.”
OFM Nuus