Central SA
Perd ongedeerd uit sinkgat gehaal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:27 Thu, 18 Jul 2024
“Die span het die perd versigtig geposisioneer en geleidelik bande om sy lyf en agterpote vasgemaak om ’n harnas te skep.”
’n Hings en sy ruiter is ongedeerd, nadat die perd Woensdag (18/7) in ’n sinkgat in Kimberley geval het.
Moonlight, die perd, en ao. Bryan Mally van Kimberley se berede polisie, het op die hoek van Rhodes- en Pickeringlaan gestap toe Moonlight in ’n versteekte gat in ’n veld in Rhodesdene geval het, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.
Die lede van Kimberley se berede eenheid het die Carters Glen-gebied gepatrolleer. Ehlers verduidelik dat die gat nie sigbaar was nie, omdat dit met sand en gras bedek was. “Die gat was vol water en die perd was sowat twee uur in die gat. Sy hele agterlyf het ingeval, terwyl die voorbene op die grond was.”
‘Nie die ruiter óf die perd is beseer nie’
Lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid, die Dierebeskermingsvereniging (DBV), die Sol Plaatje-munisipaliteit Brandweer, en ’n plaaslike veearts was op die toneel om met die reddingspoging te help.
Volgens Elhers was die perd deur dr. Jozaan Nel, van Vets 4 All-dierekliniek behandel, wat hom verdoof het om hom te kalmeer.
Pieta Serfontein, ’n plaaslike sakeman het ’n laaigraaf voorsien om die perd uit te lig. Nie die ruiter óf die perd is beseer nie. Die perd het ná die voorval behandeling ontvang.
‘Die gat was met water gevul’
Ryno Griesel, logistieke beampte van die munisipale brandweer en voorsitter van die Voorslag-perdeklub, sê hy het kort ná 10:00 ’n oproep ontvang. “Met ons aankoms op die toneel het ons die erns van die situasie besef. Die gat was met water gevul, en indien die pensgordel sou breek, sou die perd ingeval en moontlik verdrink het.”
Griesel verduidelik dat die gat gelukkig baie nou was, en die perd se saal teen die wal gedruk het. Dit het verhoed dat die perd dadelik ingeval het.
“Die perd het gehang en kon nie staanplek met sy bene kry nie. Ons het dit oorweeg om die gat te vergroot of die water te dreineer, maar ons wou nie die perd verder benoud maak met geraas nie.
‘Die span het ’n harnas geskep’
“Om die gat groter te maak, kan ook daartoe lei dat ons beheer oor die perd verloor het.”
Die span het die perd versigtig geposisioneer en geleidelik bande om sy lyf en agterpote vasgemaak om ’n harnas te skep.
Griesel sê hulle het ná die tyd die gat gemeet, wat een meter by een meter was en 2,2 meter diep was.
OFM Nuus mvh
