On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Centlec beskuldig bejaarde Bloemfonteiner van kragdiefstal

───   HEIDRÈ MALGAS 11:19 Fri, 19 Jul 2024

Centlec beskuldig bejaarde Bloemfonteiner van kragdiefstal | News Article
Foto: Bloemfontein Courant

“Die man het die boks ondersoek en hom later daarvan beskuldig dat hy elektrisiteit steel.”

’n Bejaarde Bloemfonteiner het die slagoffer geword van die elektrisiteitsverskaffer in die Mangaung-metro wat beweer dat hy elektrisiteit steel deur onwettige verbindings.

“’n Centlec-voertuig het by my hek in Bainsvlei stilgehou,” sê prof. Willie van der Westhuizen (74). Twee Centlec-personeellede, ’n man en ’n vrou, was in die voertuig en het later na die elektrisiteitsboks geloop.”

Die man het die boks ondersoek en hom later daarvan beskuldig dat hy elektrisiteit steel. Die tegnikus kon egter geen bewys lewer nie en ’n rusie het ontstaan.

“Ná die woordewisseling wou die tegnikus my gedwing het om ’n bedrag van R16 000 te betaal wat ek geweier het. Ek het ’n private elektrisiën laat kom om die situasie te help evalueer en die boks te ondersoek.

“Die private elektrisiën het niks buite orde gevind nie en die bedrading dui nie op enige elektrisiteitsdiefstal nie en daar was nie met die boks gepeuter nie.”

Die tegnikus het die boks verwyder en in die voertuig gelaai. Van der Westhuizen het die tegnikus na die Centlec-kantoor vergesel en toe hulle daar aankom, het die beweringe teen hom verander van “elektrisiteitsdiefstal” na “peuter met die elektrisiteitsboks”.

‘Ek het geweier en die perseel verlaat’

“Die vrou in die Centlec-kantoor het my gedwing om ’n skulderkenning te teken of ’n boete te betaal. Ek het geweier en die perseel verlaat.

“Geen kennisgewing of waarskuwing is uitgereik nie en daar was geen geskrewe bewys dat die elektrisiteitsboks gepeuter is nie. Ons was langer as vier dae sonder elektrisiteit. Hulle het ook nie ’n rede gegee waarom hulle gekies het om die spesifieke boks te ondersoek nie.”

Die tegnikus het genoem dat die inwoner se elektrisiteitsrekening nie gestyg het nie, hoewel die inwoner ook sonkrag op sy eiendom het.

Een van die vele vrae wat Van der Westhuizen het, is hoe die tegnikus weet wat hy presies skuld deur net na die kragboks te kyk. Die emeritus professor beweer ook dat hy nie die eerste slagoffer is wat hierdie tipe beproewing deurgemaak het nie. Hy het met prokureurs gekonsulteer oor hoe om ’n saak of klagte teen die elektrisiteitsverskaffer aanhangig te maak.

OFM Nuus het voorheen berig Centlec het besluit om saam met die Valke te werk om swendelaars vas te trek wat hulle as werknemers van die kragverskaffer voordoen.

Die Bloemfonteinse kragverskaffer het in April vanjaar verskeie klagtes ontvang oor dié swendelaars wat na bewering inwoners bel en vir hulle sê daar’s met hul meterboks gepeuter en dan ’n boete van R3 000 eis. Kliënte word gedreig dat hul elektrisiteit afgesny sal word as hulle nie die boete betaal nie.

“Ons het ’n aantal klagtes as Centlec ontvang oor sekere individue wat in die stad rondswerf en ons kliënte teister en terroriseer, en dreig om hul elektrisiteit te ontkoppel as hulle nie ’n sekere bedrag betaal nie,” sê Lele Mamatu, Centlec-woordvoerder.

‘Hierdie mense moet by die polisie aangemeld word’

“Ons wil ons kliënte waarsku dat hulle nie die prooi van hierdie soort mense moet word nie, aangesien hulle swendelaars is wat hulle van swaarverdiende geld probeer beroof. Hierdie mense moet by die polisie aangemeld word en ons as Centlec sodat hulle in hegtenis geneem kan word.”

Die gemeenskap word daaraan herinner om nooit kontantbetalings direk aan enigiemand te gee nie, aangesien Centlec-werkers nie toegelaat word om kontantbetalings van enige van hul kliënte te vra vir die dienste wat hulle lewer nie, sê Mamatu.

OFM Nuus het Centlec om kommentaar genader, maar wag nog op ’n antwoord. Die berig sal aangepas word indien Centlec reageer.

OFM Nuus/ Heidre Malgas dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.