On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vloothuur kos Vrystaatse munisipaliteit meer as R10 miljoen

───   KEKELETSO MOSEBETSI 06:00 Sat, 20 Jul 2024

Vloothuur kos Vrystaatse munisipaliteit meer as R10 miljoen  | News Article
Compactor truck. Photo: X.

“Die hele bestaande vloot het sy verwagte leeftyd oorskry, wat gelei het tot gereelde onklaarrakings, verhoogde onderhoudsuitgawes en gekompromitteerde veiligheidstandaarde.”

Die Metsimaholo-munisipaliteit op Sasolburg het die afgelope agt maande meer as R10 miljoen bestee aan die huur van kompakteerdervragmotors vir afvalverwydering.

Die vullisafdeling maak sedert Desember staat op ’n kompakteringsmaatskappy om sewe kompakteerdervragmotors te verskaf om dié diens te lewer. Hierdie huurreëling het tot stand gekom ná ’n grootskaalse onklaarraking van alle munisipale kompakteerdervragmotors, wat gelei het tot ’n tydperk van drie weke sonder vullisverwyderingsdiens dwarsoor die Noord-Vrystaatse munisipaliteit.

Ruanda Meyer, DA-hoofsweep van die sukkelende plaaslike owerheid, is bekommerd oor die aansienlike uitgawes aan die huur van vragmotors in plaas van om in nuwe vloot te belê.

‘Hulle moet verseker dat geld nie vermors word nie’

“Die DA eis dat die munisipaliteit optree en nuwe kompakteerdervragmotors aankoop om die vrugtelose en verkwistende uitgawes aan kontrakteurs te beëindig. Ons is daartoe verbind om die administrasie aanspreeklik te hou om te verseker dat belastingbetalers se geld nie in ’n bodemlose put vermors word nie,” sê Meyer.

Die huur van kompakteerdervragmotors is genoodsaak deur die onklaarrakings en die onvermoë om die gemeenskap doeltreffend te diens, sê Gino Albert, munisipale woordvoerder.

“Die hele bestaande vloot het sy verwagte lewensduur oorskry, wat gelei het tot gereelde onklaarrakings, verhoogde instandhoudingsuitgawes, en gekompromitteerde veiligheidstandaarde.”

‘Die totale bedrag wat ons bestee het, is R10 050 000’

Albert wys op die stygende instandhoudingskoste weens die verouderde voertuie, gemiddelde tien jaar oud en met 400 000 km agter die blad. “Die totale bedrag wat ons bestee het om hierdie sewe vragmotors van Julie 2023 tot Junie vanjaar te huur, is R10 050 000,” het hy bygevoeg.

Die munisipaliteit het in die vorige boekjaar beplan om ’n nuwe vloot deur middel van ’n bruikhuur te bekom, maar die Tesourie het hulle afgeraai en gesê dat die rentebetalings nie kostedoeltreffend sou gewees het nie. 

Gevolglik het die munisipaliteit nou die voorsieningskettingprosesse begin om twee nuwe vragmotors vir die 2024/2025-boekjaar aan te skaf. Daarbenewens het hulle versoek om deel te neem aan ’n transversale kontrak met die Nasionale Tesourie. 

‘Die munisipaliteit kort sowat twaalf nuwe kompakteerdervragmotors’

Albert sê dit sal ’n gefaseerde proses wees weens geldnood, aangesien een nuwe kompakteerdervragmotor sowat R3,5 miljoen kos. Die munisipaliteit kort sowat twaalf nuwe kompakteerdervragmotors om ’n doeltreffende en betroubare vullisverwyderingsdiens te lewer.

Meyer sê die DA sal op die volgende raadsvergadering ’n mosie indien om geld toe te wys vir die onmiddellike aankoop van nuwe kompakteerdervragmotors. “Dit sal doeltreffende afvalbestuur en beter gebruik van openbare geld verseker,” meen Meyer.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.