Central SA
Vanderbijlpark loop deur onder veldbrande─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:49 Fri, 19 Jul 2024

“Brande is uiteraard gevaarlik tog skroom hierdie vrywilligers nie om die taak aan te pak in diens van die gemeenskap nie.”
Veldbrande in die Vaaldriehoek neem toe en in twee dae het vyf veldbrande in die Vanderbijlpark-omgewing ontstaan.
Voorlopige inligting dui daarop dat al hierdie brande met opset gestig is, sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum. “Vyf veldbrande, een uitsonderlike span. Dít is hoe Julie tot dusver vir AfriForum se Vanderbijlpark-tak opgesom kan word. Binne twee dae het hulle suksesvol vyf veldbrande geblus.”
Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum. Foto: X
Die eerste twee brande wat geblus is, het op Donderdag 4 Julie ontstaan. Die eerste een was langs die R47 naby Sasolburg en die tweede een op die Centurions-terrein op Vanderbijlpark, sê Cooks. Die tweede vlaag veldbrande het op Sondag 7 Julie gewoed.
“Die Vanderbijlpark-span is omstreeks 14:00 na die eerste brand ontbied wat langs die R59 by Vaalpark aangemeld is. Hier het die Vanderbijlpark-span kragte saamgesnoer met boere uit die omgewing en AfriForum se Sasolburg-tak om dié brand te blus.”
Die Vanderbijlpark-span is hierna ontbied na nóg ’n veldbrand sowat 15 km daarvandaan by Kolomaka Investment & Services op die Stefanopark-landbouhoewes langs die R42.
“Dié brand het veral ’n risiko ingehou aangesien chemikalieë op die perseel gestoor word. Die span, gemeenskapslede en verteenwoordigers van VRU kon egter daarin slaag om die brand teen 17:30 finaal te blus.”
Daar was ook onlangs ’n brand op Hennie Malan se plaas in die Vaaldriehoek. Foto verskaf
Sy sê die brandspan se dagtaak was egter ná die Kolomaka-brand steeds nie klaar nie en teen omstreeks 18:00 is hulle ontbied om ’n veldbrand by die Hippo Creek-skietbaan te blus. “Die vlamme hier kon egter spoedig en sonder groot skade onder beheer gebring word.”
Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek, toon die Vanderbijlpark-tak ongekende deursettingsvermoë en durf in die werk wat hulle aanpak.
“Brande is uiteraard gevaarlik tog skroom hierdie vrywilligers nie om die taak aan te pak in diens van die gemeenskap nie. Hul onbaatsugtige werk vir die gemeenskap is nou juis te midde van hierdie droë winter se brandseisoen nie net uitsonderlik nie, maar ook uiters noodsaaklik.”
Veiligheidswenke tydens veldbrande
- Onthou, veiligheid is altyd die topprioriteit tydens ’n veldbrand. Bly kalm en tref gepaste voorsorgmaatreëls.
- Elke eienaar moet ’n redelike poging aanwend om te voorkom dat die brand na die bure versprei.
- Meld die veldbrand so gou moontlik aan by die brandbeskermingsvereniging, nooddienste en bure.
- Wees altyd bewus van wat die brand doen. Dit kan gedoen word deur middel van jou plaaslike tweerigtingradiostelsel of ander sosialemediagroepe.
OFM Nuus dg