Central SA
Bloemfonteiner wat met skietwond gevind is, Dinsdag gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Fri, 19 Jul 2024
“Jy is ’n ongelooflike mens, en jy los ’n enorme leemte in sóveel mense se lewens.”
Die jong man wat onlangs met ’n skietwond buite ’n kuierplek in Bloemfontein gevind is, word Dinsdag (23/7) ter ruste gelê.
Die teraardebestelling van Martin Wiid (27) word gehou op die plaas Loogkop, in die Boshof-distrik. Volgens ’n Facebook-inskrywing sal sy lewe om 13:00 gevier word in Piet se Gat, sy ouers, Willie en Sandra Wiid, se restaurant op Petrusburg.
Wiid is omstreeks 23:00 op Woensdag (10/7) met ’n skietwond in sy kop buite ’n Bloemfonteinse kuierplek gevind nadat hy en Willie besluit het om ná ’n plaaskuier, sowat 100 km vanaf Bloemfontein, ’n drankie iewers te gaan drink.
Willie het Maandag aan OFM Nuus vertel dat hy met meer vrae as antwoorde sit nadat sy oudste seun oorlede is. “Van Martin se vriende het ook by die plek aangekom en ek het toe vir hom (Martin) gesê om my eerder huis toe te neem, dan kan hy saam met sy vriende kuier.”
Die gesin het ook ’n huis in Bloemfontein.
Judith Hauptfleisch, Martin se jarelange vriendin, het in ’n Facebook-inskrywing geskryf hoe sy hom reeds mis.
“Martin Wiid, vanoggend wag ons vir jou om in jou gown en slippers uit die kamer te kom met een of ander onvanpaste opmerking... Dit kan mos nie regtig wees dat jy weg is nie.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir elke enkele memorie wat ons van 6 Desember 2020 tot 10 Julie 2024 kon maak. Ek is dankbaar vir al ons tyd saam en al die 1000de kilometers se travels.
“Ek is só bevoorreg dat ek jou my kêrel kon noem vir meer as 3 jaar.
“Ek is wel stukkend dat dit nou alles hier stop. Geen nuwe adventures nie. Nooit weer ’n soen of ’n ‘eks lief vir jou’ of ’n klippie wat jy vir my optel nie.
“Jy is ’n ongelooflike mens, en jy los ’n enorme leemte in sóveel mense se lewens.
“Ek het jou ongelooflik lief, Martin, en jy sal altyd, altyd vreeslik spesiaal wees vir my.
“Mag jy die rus vind wat jy nie op aarde kon kry nie. Al my liefde, Judith”

Martin Wiid en Judith Hauptfleisch. Foto: Facebook
Volgens Willie het hy solank na die bakkie gegaan en geruime tyd op Martin gewag. “Toe Martin by die bakkie kom, het hy gesê ek moet gou die rekening betaal.”
Willie is onseker hoe lank hy in die kuierplek was, maar op pad terug na die bakkie het hy ’n geweerskoot gehoor.
Martin het homself vermoedelik met Willie se vuurwapen geskiet. “Ek kan nie vir jou sê of dit selfdood of ’n ongeluk was nie. Maar Martin het dit nie beplan nie. Martin het nie geweet die vuurwapen was in die bakkie nie,” het Willie gesê.
Willie, wat altyd ’n vuurwapen by hom dra omdat hy die meeste van die tyd op die plaas is, glo dit was ’n ongeluk. “Ek vermoed Martin wou ’n baadjie aantrek wat in die bakkie was. Die vuurwapen was vermoedelik in sy hand toe die skoot afgegaan het.”
Hy sê Martin het op die oog af gelukkig gelyk en daar was geen tekens dat hy selfdood oorweeg het nie. “Hy het nog gelewe toe ek daar aankom. Ek het Martin se bebloede kop in my hande vasgehou totdat die nooddienste opgedaag het.”
Die familie het Woensdag (17/7) aan OFM Nuus gesê dat die vuurwapen blykbaar nié in die bakkie was, soos voorheen aan OFM Nuus gesê is nie. Polisiewoordvoerder lt.kol. Thabo Covane het egter Donderdag (18/7) aan OFM Nuus bevestig dat die vuurwapen wel in die bakkie was en dat die saak steeds ondersoek word.
