On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

FAK gryp in by Sannaspos-museum

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:51 Mon, 22 Jul 2024

FAK gryp in by Sannaspos-museum | News Article
Sannaspos-monument opgeknap. Foto verskaf

“ ’n Span van die FAK het broodnodige instandhouding en verfwerk gedoen én die muur herstel wat deur weerlig beskadig is.”

Nog ‘n Vrystaatse erfenisterrein wat reeds jare onder vandalisme en weeromstandighede deurloop, is herstel.

Die Sannaspos-monument langs die N8, sowat 30 km oos van Bloemfontein, het soos baie ander erfenisskatte vanjaar deurgeloop onder vandalisme en die onlangse ongure weer het die toestand van dié terrein vererger. Dit het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) genoop om in te tree, sê Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK.

Malan vertel omdat Sannaspos weens verskeie omstandighede ontoeganklik is, het die FAK besluit om in te gryp.

’n Span van die kultuurnetwerk het broodnodige instandhouding en verfwerk gedoen én die muur herstel wat deur weerlig beskadig is. Foto verskaf

“Sannaspos het die afgelope jaar onder geweldige weersomstandighede deurgeloop. Die Afrikason het die slagveldkaarte verdor en dit is ook gevandaliseer, en weerlig het ’n stuk van die muur weggebreek. Verder het vog van die reënseisoen ernstige skade aan die pleisterwerk gedoen,” vertel Malan.

Die tipografiese kaarte, wat van veselglas gemaak is, word tans deur die Oorlogsmuseum herstel waarna die FAK dit weer by die monument sal oprig.

Vir ‘n vrywilliger van die Bloemfonteinse Kultuurnetwerk, Pikkewyn Pretorius, is dit belangrik dat die gemeenskap betrokke raak by erfenisbewaring. “As ons dit nie doen nie, wie gaan?” stel sy die vraag.


Pretorius meen dat gemeenskappe verantwoordelikheid moet aanvaar vir hul kulturele erfenis en moedig mense aan om betrokke te raak by groepe soos die FAK-netwerke.

Dr. Johan van Zyl, kurator van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, is dit met Pretorius eens dat die inkoop van die gemeenskap van kardinale belang is wat die bewaring en uitbou van erfenis betref. “Ons is baie gelukkig by die Oorlogsmuseum om een van die topmuseums in die land te hê, maar die hartseer waarheid is dat dit nie oral die geval is nie,” sê hy.

Die Vrystaatse erfenis ervaar, volgens Van Zyl, geweldige uitdagings, tog vertel hy daar is steeds hoop.

“Flinkheid waarmee die FAK hul projek aangepak en afgehandel het, sou genl. De Wet definitief tevrede gestel het.” Foto verskaf

“Dit is moeilik om te sien hoe erfenis agteruitgaan, maar een ligpunt daarvan is om te sien hoe gemeenskappe en organisasies soos die FAK meer betrokke begin raak en self eienaarskap neem van hul erfenis.”

Van Zyl sê hy is ongelooflik dankbaar dat die terrein opgeknap word.

Ná die oorname van Bloemfontein deur die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog op 15 Maart 1900 het die boere onder leiding van genl. Christiaan de Wet besluit om Sannaspos aan te val en watervoorraad na Bloemfontein af te sny. Heelwat Britte het in die slag gesneuwel, en ’n magdom waens met kos en ammunisie is gebuit. 

Dit was een van De Wet se meer strategiese oorwinnings en die oorname van die waterwerke het die Britte in Bloemfontein se lewe moeilik gemaak.

Malan sê hy glo die flinkheid waarmee die FAK hul projek aangepak en afgehandel het, sou genl. De Wet beslis tevrede gestel het.

“Daar is baie helde in ons verlede van wie ons meer kan leer,” vertel Malan. “Soos genl. De Wet sy volk gedien het deur sy hele lewe en dit vir ons ’n voorbeeld was, dien die FAK ook ons gemeenskappe met die hulp van ons kultuurnetwerke en ons hoop dit sal ander inspireer om ook betrokke te raak.”

Malan wil graag vir Henry en Pikkewyn Pretorius bedank vir hul hulp en ondersteuning met dié projek en Van Zyl vir sy bydrae met kennis oor die terrein.

‘FAK geprys vir die werk wat hulle doen’

Malan, as erfeniskenner en kurator van een van die topmuseums in die land, prys die FAK vir die werk wat hulle doen om gemeenskappe te mobiliseer om erfenis in Suid-Afrika te bewaar en beskerm.

Van Zyl het die week sy dank uitgespreek aan die FAK vir die afgelope week se belangrike opknappingswerk wat by die Sannaspos-monument gedoen is.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.