Central SA
Polisiekaptein se liefdadigheidsentrum op Vanderbijlpark vier mylpaal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:52 Mon, 22 Jul 2024
“Die sentrum kort voortdurend skenkings, insluitend droë kosse, niebederfbare kosse, vleis, ingemaakte goedere, skoonmaakmiddels, swart sakke en toiletware.”
’n Organisasie sonder winsoogmerk het onlangs sy twaalfde bestaansjaar gevier ná langer as ’n dekade van toegewyde diens aan die gemeenskap.
Die Dante Chan Christelike Sentrum op Vanderbijlpark het op 1 Julie hierdie mylpaal gevier.
Die sentrum is aanvanklik deur kapt. Alwyn Wilken en sy vrou, Trudie, gestig as ’n winkeltjie in die ou woonbuurt, wat vir baie as “Porra Valley” bekend staan.
‘Hy het ’n goddelike roeping ontvang om misdaadbrandpunt te betree’
Hoewel die sentrum met die jare verskeie kere in die ou woonbuurt rondgeskuif het, vertel Alwyn dit het in Januarie vanjaar ’n nuwe tuiste by Livingstoneboulevard 51, Vanderbijlpark, gevind.
Alwyn, ’n polisiebeampte met 37 jaar diens wat by die Vanderbijlpark SAPD gestasioneer is, vertel hy het die sentrum gestig nadat hy ’n goddelike roeping ontvang het om ’n brandpunt van misdaad te betree wat geteister is deur dwelm- en drankmisbruik, prostitusie en armoede. Sy missie was om die hongeriges te voed, die armes te klee en aan haweloses ’n skuiling te bied.

Trudie, hul dogter Amore, en Alwyn. Foto verskaf
“Ons het begin deur ’n winkeltjie te huur en het ’n sopkombuis en ’n klerebank begin. Op 31 Julie 2012 is Dante Chan, ’n 13-jarige Chinese seun en buurman van my wreed in sy huis vermoor. Ter ere aan hom is die sentrum die Dante Chan Christelike Sentrum genoem.”
Sedert sy ontstaan het die sentrum aansienlik gegroei. “Die oorspronklike klein winkeltjie het onvoldoende geraak, wat gelei het tot die huur van ’n groter spasie. Ek het in 2023 ’n huis by Livingstone-boulevard 51, Vanderbijlpark, geërf en die sentrum is in Januarie 2024 by hierdie nuwe adres heropen.”
‘Huis van Dante sal as veilige huis vir agtergelate, mishandelde kinders dien’
Alwyn vertel die sentrum is weeksdae tussen 7:00 en 12:00 oop en word beman deur twee voltydse dames en een vrywilliger. As 'n geregistreerde, nie-winsgewende organisasie maak dit staat op ondersteuning van besighede en die gemeenskap om sy dienste vir haweloses, armes en behoeftiges te onderhou.
Daar is ook ’n fasiliteit wat binnekort oopmaak, CASA – KAì (Huis van Dante), wat sal dien as ’n veilige huis vir agtergelate en mishandelde kinders, wat deur Kinderwelsyn ingeneem of deur die hof geplaas word vir kort tydperke.
Die Dante Chan Christelike Sentrum bied die volgende dienste:
- Bedien daagliks maaltye aan tot 300 mense, Maandag tot Vrydag om 10:00, en ná kerkdienste op Sondae om 9:30. Die aantal begunstigdes neem toe tydens skoolvakansies namate kinders ook na die sentrum stroom.
- Klerebank: Versprei elke Vrydag klere, linne en huishoudelike goedere aan behoeftiges.
- Bied ’n buitestortfasiliteit aan vir mense wat nie toegang tot baddens of storte het nie, wat persoonlike higiëne onder haweloses bevorder.

Die storte. Foto verskaf
- Verskaf berading en plasing in rehabilitasiesentrums vir dwelmmisbruikers.
- Bystand aan gesinne en kinderwelsynsdienste om kindermishandeling en gesinsgeweld te bekamp.
- Die hou van Afrikaanse en Engelse dienste op Sondae, saam met Sondagskoolsessies.
Alwyn sê die sentrum benodig voortdurend skenkings, insluitend droë kos soos pasta, rys, sojamaalvleis, soppoeiers, niebederfbare kosse, vleis, ingemaakte goedere, skoonmaakmiddels, swart sakke, toiletware, tandepasta, tandeborsels, sjampoe, seep, toiletpapier, handdoeke, gesigdoeke en komberse.
