On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Tref-en-trap: Motor vermoedelik opgespoor op Sasolburg – VIDEO

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:16 Wed, 24 Jul 2024

Tref-en-trap: Motor vermoedelik opgespoor op Sasolburg – VIDEO | News Article
Donovin Rieger. Foto: Facebook

“In die video kan duidelik gesien word hoe Rieger wag dat die verkeerslig groen word voordat hy begin om die pad oor te steek.”

Die motor wat betrokke was in die noodlottige tref-en-trapongeluk in die Vaaldriehoek, is vermoedelik opgespoor.

Donovin Rieger is verlede Woensdag (17/7) omstreeks 18:35 deur ’n voertuig by die kruising van Barrageweg en Louis Trichardtboulevard getref. Kameras by die kruising het die voorval vasgevang.

Volgens Johnny de Sousa, ’n familielid, is die motor Woensdagoggend (24/7) op Sasolburg deur ’n familiekennis opgemerk. Die vrou, wie se naam weerhou word, het foto’s van die motor aan die familie gestuur. Daar was glo vier insittendes in die motor.

Die motor wat vermoedelik by die tref-en-trapongeluk betrokke was. Foto verskaf

“Die motor het skade regs voor en die motor se spieëlomhulsel, wat op die toneel gevind is, word aan dié motor vermis,” sê De Sousa. Hy het voorheen aan OFM Nuus gesê hulle het aanvanklik gedink dit is die hele kantspieëltjie, maar het later besef dis net die omhulsel.

Die motor, wat nie ’n registrasienommer het nie, beweeg vermoedelik tussen Vanderbijlpark en Sasolburg, wat die opsporing daarvan bemoeilik.

“ ’n Groep wat hulself Private Eye noem, is op die spoor van die motor, en ek hoop hulle vang die bestuurder gou,” sê De Sousa, wat ook intussen ’n beloning van R10 000 aanbied vir inligting wat tot ’n inhegtenisneming lei.

Die video is nié vir sensitiewe kykers nie:


In die video kan duidelik gesien word hoe Rieger wag dat die verkeerslig groen word voordat hy begin om die pad oor te steek. Oomblikke later jaag ’n bestuurder oor die kruising en tref Rieger in volle vaart. Beeldmateriaal wys hoe die bestuurder wegjaag en sy slagoffer vir dood agterlaat.

Hy het die volgende dag in die Sebokeng-hospitaal aan sy beserings beswyk, hoewel die amptelike bevestiging van die oorsaak van sy dood nog hangende is.

Volgens Noxolo Kwena, Gautengse polisiewoordvoerder, duur die ondersoek voort. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar ons volg alle leidrade op.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.