Central SA
Solidariteit laat NGV-hoeksteen in hof kantel – VIDEO─── 14:25 Wed, 24 Jul 2024
“Volgens die uitspraak is art. 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet, waarvolgens die regering die mag sou hê om te bepaal waar dokters mag praktiseer, in sy geheel ongeldig.”
Solidariteit het ’n deurbraak behaal in sy stryd teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) toe ’n hoeksteen waarop die staat se sentralisering van gesondheidsorg steun, in die hooggeregshof as ongrondwetlik verklaar is.
Volgens die uitspraak is art. 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet, waarvolgens die regering die mag sou hê om te bepaal waar dokters mag praktiseer, in sy geheel ongeldig.
Vanweë hierdie saak wat deur Solidariteit en ander applikante aanhangig gemaak is, word ’n streep deur die omstrede behoeftesertifikate getrek. Die Department van Gesondheid moet gevolglik ook Solidariteit en die ander partye se koste dra.
“Jare se harde werk en volgehoue steun van die algemene publiek, asook rolspelers in die mediese bedryf om die wetgewing teen te staan, is met dié uitspraak geregverdig,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Hierdie uitspraak is ’n groot slag vir die hele NGV-idee aangesien die beginsel van sentrale bestuur ’n kernpilaar van die NGV-wet self is. Die uitspraak oor die behoeftesertifikaat se groter gevolge is dat dele van die NGV-wet heel waarskynlik ook nou in beginsel onwettig is.
“Die NGV, in sy huidige formaat, kan nie meer geïmplementeer word nie aangesien die wese van die NGV sentrale beplanning is – en dit is nou ongrondwetlik bevind,” sê Hermann.
Volgens Hermann bly die hofstryd teen die NGV-wet steeds ten volle in Solidariteit se visier as wetgewing wat meer spesifiek met die sentralisering van geld vir gesondheidsorg te make het. Die hofstukke daaroor is op 24 Mei aan die regering beteken nadat die NGV-wet deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is.
“Solidariteit gaan dus voort met sy litigasie teen die groter NGV en is nou in ’n baie sterk posisie om ’n oorwinning in die hof te behaal,” meen Hermann.
OFM Nuus/Mediaverklaring mc/dg
