On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende onwettige immigrante, mynwerkers in Noord-Kaap vasgetrek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Sun, 28 Jul 2024

Vermeende onwettige immigrante, mynwerkers  in Noord-Kaap vasgetrek | News Article
’n Gekoördineerde operasie genaamd Operasie Vala Umgodi is van stapel gestuur. Foto verskaf

“Die missie was om onwettige mynbedrywighede hok te slaan en immigrasiewette toe te pas.”

Altesaam 22 onwettige immigrante is die afgelope week in die Noord-Kaap vasgetrek weens onwettige mynbedrywighede.

Die uitgestrekte Noord-Kaap voer ’n meedoënlose stryd teen onwettige mynbou. Die polisie, in vennootskap met belanghebbendes, is onwrikbaar in hul verbintenis om hierdie uitdaging aan te pak, sê sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder.

“Op Donderdag (25/7) is ’n gekoördineerde operasie genaamd Operasie Vala Umgodi van stapel gestuur. Die multidissiplinêre span het bestaan uit die SANW, die departement van binnelandse sake: immigrasiedienste, Springbok K9, Port Nolloth-misdaadvoorkomingseenhede en provinsiale verkeersbeampte,“ sê Sam. Hy voeg by dat hulle missie was om onwettige mynbedrywighede hok te slaan en immigrasiewette toe te pas.

Die Noord-Kaap voer ’n stryd teen onwettige mynbou. Foto verskaf

Volgens Sam het Namakwaland ’n beduidende ontplooiing uitgevoer. “By die Port Nolloth/Kleinsee-kruising en die Bontakoe informele nedersetting is voertuigkontrolepunte gevestig. Hier is 15 ongedokumenteerde immigrante aangehou. Hul status moet deur immigrasiedienste geverifieer word voor enige verdere regstappe.”

Boonop is verkeersboetes vir verskeie oortredings uitgereik om te verseker dat die paaie veilig bly.

Rondom Upington het die span op onwettige mynbedrywighede gefokus en volgens Sam is sewe verdagtes vir onwettige mynbedrywighede in hegtenis geneem. “Ongedokumenteerde buitelandse burgers is ook aangehou vir verifikasie deur immigrasiedienste. Tesame met hierdie inhegtenisnemings het die span die veiligheid en sekuriteit van twee groot gebeurtenisse in Kimberley verseker deur ywerige misdaadvoorkoming en sigbaarheidspatrollies.”

Belag is gelê op verskillende werktuie. Foto verskaf

Beslag is gelê op mynboutoerusting, wat vermoedelik in onwettige mynbou gebruik word. Dit het die onwettige bedrywighede in die streek ’n knou toegedien.

Die polisie doen ’n beroep op die publiek om waaksaam te bly en moedig die publiek aan om onwettige mynbou kan by Stop Misdaad by 08600 10111) aangemeld word. “Saam kan ons ons grond beskerm en die wet handhaaf.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.