Central SA
Noord-Kaapse konstabel kry borgtog ná beweerde dronkbestuur─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:18 Tue, 30 Jul 2024
“Daar word van polisiebeamptes verwag om ’n standaard van gedrag te stel. Ons keur nie die gedrag goed wat in die video van die voorval uitgebeeld word nie.”
’n Noord-Kaapse polisiekonstabel wat vir dronkbestuur in hegtenis geneem is, is op borgtog vrygelaat.
Die konstabel het Maandag (29/7) voor die Mothibistad-landdroshof verskyn op aanklagte van dronkbestuur, nalatige roekelose bestuur en ongemagtigde gebruik van ’n staatsvoertuig, sê brig. Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Daar word van polisiebeamptes verwag om ’n standaard van gedrag te stel. Ons keur nie die gedrag goed wat in die video van die voorval uitgebeeld word nie,” sê lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, wat die inhegtenisneming verwelkom.
‘Die VSDDR het die dranklisensie van The Other Venue tydelik opgeskort’
“’n Omvattende interne ondersoek sal na die beampte se optrede gedoen word. Sulke gedrag is onaanvaarbaar en sal nie geduld word nie.”
In ’n afsonderlike voorval het die Vrystaatse Dobbel-en-drankraad (VSDDR) die dranklisensie van ’n Bloemfonteinse kuierplek, The Other Venue, tydelik opgeskort ná ’n noodlottige aanranding, het Heidrè Malgas berig.
“Ons het hierdie besluit geneem in reaksie op die voorval van Maandagoggend af. Die besluit om die dranklisensie tydelik op te skort kragtens Artikel 117 van die Drankwet is ’n direkte gevolg van die aanranding,” sê Lefa Kalane, waarnemende VSDDR- uitvoerende hoof.
‘Die slagoffer is steeds nie geïdentifiseer nie’
Boonop is ’n tweede verdagte aangekeer in verband met die aanranding, wat wyd in sosialemediavideo’s gedeel is. Die video’s wys hoe beweerde uitsmyters van die kuierplek in Tweedelaan, Bloemfontein, ’n ongeïdentifiseerde individu aanrand.
Die eerste verdagte is drie dae ná die voorval in hegtenis geneem, nadat die slagoffer op Maandag (22/7) op ’n parkeerterrein aangetref is, sê Thabo Covane, Vrystaatsepolisiewoordvoerder. Volgens Covane was die verdagte (31) vermoedelik by die aanranding betrokke.
Die slagoffer, wat steeds nie geïdentifiseer is nie, is vergesel deur ’n ander man, wat tydens die aanval daarin geslaag het om te ontsnap.
