Central SA
‘Hou op om vernederende video te versprei’ – Edenville-polisie─── ZENANDE MPAME 12:13 Thu, 01 Aug 2024

“Ondersoeke het gelei tot die inhegtenisneming van ’n verdagte (21) en nog inhegtenisnemings is op hande.”
Edenville-polisie vra dat mense moet ophou om ’n vernederende video te versprei, en om dit liewer uit te vee as om die slagoffer se menswaardigheid oor en oor te skend.
In die gewraakte video kan gesien word hoe ’n vrou (26) aangerand word en naak deur die straat geparadeer word.
Die verdagte (21) sal na verwagting Dinsdag (6/8) om borgtog aansoek doen in die Edenville landdroshof nadat haar saak Dinsdag (30/7) uitgestel is. Sy staan tereg op aanklagte van aanranding en openbare onsedelikheid.
Nog mense kan aangekeer word
“Die slagoffer het Sondagoggend (28/7) ’n vrou teëkom toe sy by haar kêrel se huis uitstap,” sê Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Dié het haar begin aanrand en uittrek terwyl sy haar daarvan beskuldig het dat sy by haar kêrel slaap.”
Die verdagte het familielede gebel, wat na bewering kom hand bysit het. Hulle het glo gehelp om die slagoffer aan te rand, kaal uit trek en deur die dorpie se strate te paradeer.
“Die verdagte is in hegtenis geneem,” sê Rani. “Maar nog mense kan aangekeer word namate die polisie se ondersoek vorder.”
Openbare onsedelikheid is wanneer iemand se geslagsdele of ander intieme dele vertoon, óf vertoon word op ’n manier wat aanstootlik vir die publiek is. Die polisie sê die misdaad bestaan uit onwettige, opsetlike en openbare optrede wat geneig is om die sedes van ander te bederf, óf indruis teen die publiek se sin vir ordentlikheid.
‘Die hof kan beveel dat die oortreder die slagoffer vergoed’
Hoewel dit nie so ernstig soos sommige seksmisdrywe is nie, is dit volgens Justia nietemin strafbaar met tronkstraf, ’n kriminele rekord en die stigma wat met aan so ’n skuldigbevinding kleef.
Individue wat aan gewone aanranding skuldig bevind word, kan die volgende strawwe verwag:
• Boete: ’n Persoon wat skuldig is aan gewone aanranding kan beboet word met tot R10 000. Die boetebedrag sal afhang van die erns van die aanranding en die oortreder se finansiële omstandighede.
• Tronkstraf: ’n Persoon wat aan gewone aanranding skuldig bevind word, kan tot ’n maksimum van twee jaar tronkstraf gevonnis word. Die hof kan ’n gedeelte van die vonnis opskort, na gelang van die saak se omstandighede.
• Vergoeding: Die hof kan beveel dat die oortreder die slagoffer vergoed vir enige beserings of skade wat gely is weens die aanranding.