Central SA
Vermiste Klerksdorp-tiener swyg ná tuiskoms─── ZENANDE MPAME 12:20 Fri, 02 Aug 2024
“Sy praat nie op die oomblik nie en het nie vir ons gesê waar sy was nie.”
Die tienermeisie wat van ’n kinderhuis in Klerksdorp weggeloop het, is terug by haar ouers op ’n buurdorp nadat sy agt dae gelede as vermis aangemeld is.
Sy is Donderdag (1/8) deur haar ouers gevind. Sy is ’n week gelede as vermis aangemeld toe sy die kinderhuis verlaat het.
“Toe ons gisteraand terug huis toe kom, het sy onder ons boom gesit; koud, moeg en honger. Sy wou net ’n warm bad neem en iets eet,” sê haar ma.
“Ons het wel met haar probeer praat oor wat gebeur het en hoekom sy weggeloop het, maar op die oomblik praat sy nie en ons wil haar nie dwing nie. Wanneer sy gereed is sal sy ons alles vertel.”
‘Sy hou vol dat dit goed gaan met haar’
Sy is verlig dat haar dogter ongedeerd terug by die huis is. Hulle wou haar dokter toe neem vir mediese toetse, maar sy hou vol dat dit goed gaan met haar.
Die meisie het wel genoem dat sy van haar selfoon beroof is, maar buiten dit het daar volgens haar niks met haar gebeur nie.
“Sy bly in haar kamer vandat sy teruggekom het en ons kyk gedurig of alles oukei is. Ek het wel vir haar gesê dat wanneer sy gereed is, sy vir my moet sê hoekom sy weggeloop het,” sê haar ma.
“Wanneer sy gereed is om met my te praat, kan ek meer inligting aan almal gee.”
‘Daar is geen 24-uur-wagtydperk nie’
Die ma het aan OFM Nuus verduidelik dat al haar kinders twee jaar gelede deur die welsyn weggeneem is. Die kinderhuis het intussen haar twee jongste kinders teruggegee, en hulle gaan nie weer terug na die kinderhuis nie.
Jacqui Thomas, stigter en direkteur van die organisasie The Pink Ladies, sê wanneer iemand vermis word, of jy voel dat daar iets fout is of dat iets met hulle gebeur het, jy asseblief in gedagte moet hou dat daar geen 24-uur-wagtydperk is nie.
* Die meisie is gevind en word daarom nie meer in beriggewing geïdentifiseer nie. Kragtens die Kinderwet is haar naam en foto’s verwyder.
OFM Nuus/Zenande Mpame mvh dg
