On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum span nuwe buurtwag-app in om misdaad te bekamp

───   HEIDRÈ MALGAS 12:37 Fri, 02 Aug 2024

AfriForum span nuwe buurtwag-app in om misdaad te bekamp | News Article
AfriForum het ’n app ontwikkel wat help om hulp te ontbied en inligting in te samel. Foto: AfriForum

“Die app help ook om hulp te ontbied en inligting te versamel.”

Almal wil veilig in hul buurt voel en om ’n buurtwag te hê, maak mense bietjie meer gerus. Afriforum het ’n nuwe app ontwikkel, wat aan buurtwagte die vermoë sal gee om insidente tydens patrollies onmiddellik te rapporteer. 

OFM Nuus het voorheen met Johan Potgieter, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-buurtwag gesels oor die belangrikheid van ‘n buurtwag. “Buurtwagte speel ’n baie belangrike rol in die bekamping van misdaad in ons woonbuurte. 

“Hulle is die oë en ore van die polisie op grondvlak en tree self op waar die polisie hulp nodig het,” sê Potgieter. Dié app help om hulp te ontbied en inligting in te samel.

‘Die buurtwaglede hoef net ’n paar knoppies te druk om ’n insident te rapporteer’

Volgens Jacques Broodryk, Hoofwoordvoerder: Gemeenskapsveiligheid vir Afriforum, hoef buurtwaglede net ’n paar knoppies te druk om ’n insident te rapporteer. Daar is vooraf ’n lys met tipes insidente opgestel om uit te kies en die koördinate word ook dadelik versamel, sodat moontlike brandpunte makliker geïdentifiseer kan word.

Potgieter sê: “Die primêre doel van AfriForum-buurtwagte is om binne die wet alles self te doen waar nodig. Hulle verseker die veiligheid van die dorp se inwoners deur eerste op ’n toneel te wees en die nodige te doen.

“Buurtwaglede kan ook op die app aandui of hulle tans aan diens is of nie. Wanneer ’n buurtwaglid patrolleer, sal die toepassing hul ligging regstreeks volg om te verseker dat hulle na die regte toneel ontbied word. Buurtwaglede kan ook stemboodskappe, video’s en foto’s neem op die app self om inligting oor insidente so volledig as moontlik deur te gee,” se Broodryk.

‘Dié app sal ook patrolleerders se noodsaaklike inligting bevat’

“Buurtwaglede word opgelei om verskillende take te verrig en word ook op daardie gebied ingespan,” sê Potgieter. Soos noodtoestande ontwikkel, word veiligheidsmaatreëls getref – van optrede deur lede tot mediese dienste wat saam met die lede na tonele uitgaan.

Dié app sal ook die patrolleerders se noodsaaklike inligting bevat, soos kontakbesonderhede van naasbestaandes, mediesefondsinligting, en by watter AfriForum-tak die patrolleerder geaffilieer is. Volgens Broodryk span die organisasie gereeld nuwe tegnologie in om as magsvermenigvuldiger te dien.

“Hierdie app is ’n groot deurbraak in ons pogings om ons patrolleerders se werk te vergemaklik en sodoende hul doeltreffendheid te verskerp. Die inligting wat ingesamel word, kan ook gebruik word om misdaadtendense te monitor en te analiseer om dan beter teen dit te kan optree,” sê Broodryk.

OFM Nuus/Heidre Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.