On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Polisiekaptein, kollega in hof weens verskeie klagte

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:51 Sat, 03 Aug 2024

Polisiekaptein, kollega in hof weens verskeie klagte | News Article
Karel Coetzee du Toit. Foto: Facebook

“Albei beamptes, gestasioneer by die Springbok-polisiestasie, staar ernstige aantygings soos bedrog, diefstal, dwarsboming van die gereg, oortreding van die Toerismewet en korrupsie in die gesig.”

Twee polisiebeamptes moet weer op 24 Oktober in die hof verskyn weens verskeie aanklagte.

Karel Coetzee du Toit, ’n bevelvoerder van die Veediefstaleenheid in Springbok, en sy kollega, ao. Leonard William Landrew, het Vrydag (2/8) in die Springbok-landdrofhof verskyn. Hulle staan tereg op talle aanklagte, insluitend diefstal, bedrog, regsverydeling en die oortreding van die Toerismewet, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder van die Vrystaat en Noord-Kaap.

“Albei beamptes, gestasioneer by die Springbok-polisiestasie, staar ernstige aantygings soos bedrog, diefstal, dwarsboming van die gereg, oortreding van die Toerismewet, en korrupsie in die gesig. Du Toit word daarvan beskuldig dat hy betrokke was in ’n skema wat hofvonnisse uitgebuit het om ’n private entiteit te bevoordeel.”

Karel Coetzee du Toit. Foto: Facebook

Volgens Senokoatsane voer die staat aan dat Du Toit in sy hoedanigheid as direkteur van Pillansii Tours (Edms.) Bpk. én as raadslid vir die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (Jagtersvereniging) verseker het dat die Jagtersvereniging by die hof se vonnisse baat deur skenkings te ontvang, wat deel was van die vonnisse wat opgelê is aan diegene wat pleitooreenkomste of alternatiewe geskilbeslegting met die staat aangegaan het. 

“Ten spyte van die voltooiing van SAPD-verklaringsvorms wat ’n maandelikse inkomste van R750 aandui, het Du Toit na bewering hierdie bedrag wanvoorgestel as ’n gratifikasie eerder as om dit as werklike inkomste bekend te maak,” sê Senokoatsane.

Bedreigde vetplante. Foto: Google

Landrew staan tereg op aanklagte wat verband hou met sy rol as ’n ondersoeker in sake waar Du Toit as ’n agent gedien het, insluitend die feit dat hy nie plante en bewyse van misdaadtonele behoorlik gewaarmerk het nie.

Na bewering het Du Toit versuim om tussen 2016 en 2023 sy die finansiële winste van sy toerisme-onderneming, wat hy na bewering vir bedrieglike aktiwiteite gebruik het, te verklaar. 

“Hy word ook daarvan beskuldig dat hy betalings aanvaar het van buitelandse burgers wat gearresteer is vir die oortreding van die Noord-Kaapse Natuurbewaringswet 9 van 2009, spesifiek met betrekking tot die ongemagtigde handel en versameling van vetplante,” sê Senokoatsane.

Leonard William Landrew. Foto: Facebook

Du Toit is met sy eerste verskyning  (9/5) op borgtog van R50 000 vrygelaat. Landrew, wat Vrydag die eerste keer verskyn het, is borgtog van R20 000 toegestaan.

Senokoatsane sê albei beamptes is onderhewig aan streng borgtogvoorwaardes, insluitend om hulle daarvan te weerhou om getuies te intimideer of met voortgesette ondersoeke in te meng, en om gereelde hofbywoning te verseker soos vereis.

Die hof het die saak vir verdere verrigtinge uitgestel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.