Central SA
Buitelanders geskok nadat gewapende polisie glo krag ontkoppel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 05:30 Mon, 05 Aug 2024

“Daar word beweer dat swaar gewapende polisie, wat in ’n gepantserde voertuig opgedaag het, hul gewere op die sentrum se eienaars gerig het. Vrywilligers en personeel is glo geïntimideer en een van die eienaars is hardhandig hanteer.”
Buitelandse vrywilligers by 'n sentrum naby Kimberley, waar leeus en luiperds aangehou word, het aanvaar dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens verantwoordelik was om die veiligheid van die inwoners te verseker, nie om hulle te traumatiseer nie.
So sê die DA-parlementslid Lisa Schickerling, adjunkwoordvoerder oor polisie, nadat beamptes na bewering Vrydag (26/7) met swaar gewapende vuurwapens daar opgedaag het om die elektrisiteit te ontkoppel.
“Die DA is bekommerd oor berigte van onbehoorlike optrede deur die polisie tydens ’n operasie by die Felidae-sentrum (Cats Place of Safety), ’n dieretoevlugsoord naby Kimberley. Die aangeleentheid word ondersoek deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Ipid) wat die DA ondersteun en dit fyn sal monitor,” sê Schickerling.
Die Felidae-sentrum is deel van die Vrystaat se Xhariep-distriksmunisipaliteit. Foto: Facebook
“Op 26 Julie het sowat 20 polisielede en Eskom-werknemers glo die sentrum binnegegaan gegaan om sy elektrisiteit te ontkoppel. Daar word beweer dat swaar gewapende polisie, wat in ’n gepantserde voertuig opgedaag het, hul gewere op die sentrum se eienaars gerig het. Vrywilligers en personeel is glo geïntimideer en een van die eienaars is hardhandig hanteer.”
Volgens Schickerling het een van die polisiebeamptes gedurende die voorval per ongeluk ’n vuurwapen binne die gepantserde voertuig afgevuur. ’n Mede-offisier is beseer en het mediese aandag nodig gehad. “Dit is onduidelik of enige bevele gegee is om geweld te gebruik of lewendige ammunisie tydens hierdie operasie te dra.”
Die Felidae-sentrum is 25 km vanaf Kimberley geleë. Foto: Facebook
Schickerling sê die DA veroordeel polisie-intimidasie en buitensporige geweld, en beklemtoon dat sulke optrede geen plek in ’n demokratiese samelewing het nie. “Hierdie dui op ’n ernstige gebrek aan opleiding binne die SAPD, veral in wapenhantering en gemeenskapsbetrokkenheid. Die DA sal parlementêre vrae aan die minister van polisie, Senzo Mchunu, stel om meer inligting oor dié voorval in te samel, insluitend of daar ’n bevel was om geweld te gebruik en lewendige ammunisie te dra, en watter stappe gedoen word om ondersoek in te stel.“
Sy verseker die publiek dat die DA daartoe verbind is om ’n polisiediens te bou wat goed toegerus is en goed opgelei, sorgsaam en professioneel is, en wat respek vir menswaardigheid in die middel van hul funksies plaas. “Die DA sal hierdie saak fyn dophou, hy sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat hierdie afgryslike gebeure nie herhaal nie, en dat die verantwoordelikes tot verantwoording geroep word,” sê Schickerling.
Die Felidae-sentrum is 25 km vanaf Kimberley geleë, maar is deel van die Vrystaat se Xhariep-distriksmunisipaliteit.