Central SA
Motor en trein bots buite Postmasburg─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:08 Mon, 05 Aug 2024
“Sommige passasiers het glo van die bakkie afgespring, maar hulle pogings om dit van die spoor af te stoot voor die trein daarmee bots, was vergeefs.”
Vier mense is dood en drie is ernstig beseer toe ’n trein ’n bakkie getref het wat op ’n spoorlyn naby Postmasburg onklaar geraak het.
Daar was twaalf mense in die bakkie tydens Sondag (4/8) se voorval.
“Die bestuurder wou omstreeks 14:00 die spoorlyn by die Groenwater-kruising oorsteek toe die voertuig onklaar geraak het en deur ’n aankomende trein getref is,” sê lt.kol. Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
‘Die bestuurder, twee vroue en ’n sesjarige seuntjie is op slag dood’
Sommige passasiers het glo van die bakkie afgespring, maar hulle pogings om dit van die spoor af te stoot voor die trein daarmee bots, was vergeefs.
Die bestuurder, twee vroue en ’n sesjarige seuntjie is op slag dood. Drie ander mense het ernstige beserings opgedoen en ontvang behandeling in ’n plaaslike hospitaal.
Die voorval het plaasgevind net vier dae ná ’n noodlottige ongeluk in Mpumalanga, waarin ses skoolkinders dood is toe ’n bus met sowat 30 leerders met ’n Transnet-trein op ’n spooroorgang gebots het. Talle oorlewende kinders is kritiek beseer en na hospitale geneem.
‘Die bevindings sal met die publiek gedeel word’
Die polisie het nog nie die name van die oorledenes bekend gemaak nie.
Die Reguleerder vir Spoorwegveiligheid (RSR) het Maandag (5/8) gesê dat inspekteurs tans op die toneel is om ’n voorlopige ondersoek te doen om die omstandighede van die voorval vas te stel. “Die bevindings sal met die publiek gedeel word sodra dit beskikbaar is.”
Luidens ’n verklaring deur Transnet se spoorvragafdeling sal hulle ook ’n volledige ondersoek doen. Die polisie is ook by die ondersoek betrokke.
‘Ons word daagliks herinner aan die kritieke belangrikheid van spoorveiligheid’
“Ons betuig ons innige meegevoel met die naasbestaandes van diegene wat deur die tragiese voorvalle geraak word. Ons word daagliks herinner aan die kritieke belangrikheid van spoorveiligheid, veral by spooroorgange,” sê Mmuso Selaledi, waarnemende uitvoerende hoof van die RSR.
Hy het beklemtoon dat die RSR daartoe verbind is om veiligheidsmaatreëls te verbeter en onverpoosd werk om sulke tragedies te voorkom.
“Veiligheid by spooroorgange is ’n gedeelde verantwoordelikheid, en ons ’n beroep op die publiek sowel as belanghebbendes in die bedryf om streng by veiligheidsprotokolle te hou.”
