Central SA
Bloemfonteinse uitsmyters kry borgtog ná moordaanklag─── HEIDRÈ MALGAS 14:31 Mon, 05 Aug 2024

“Die rede vir die vrylating op borgtog is dat al drie verdagtes geen vorige veroordelings het nie, sterk familiebande het en almal werk.”
Die drie uitsmyters van ’n kuierplek in Bloemfontein wat na bewering ’n klant vermoor het, is op borgtog van R2 000 vrygelaat en die saak uitgestel tot 16 September vir verdere ondersoek.
Mpho Kedumetse Mphepuka (18), Simphiwe “Gorilla” Dlabu (27) en Justin Ayanda Horn (36) het Maandag (5/8) in die Bloemfonteinse landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn.
Die rede vir die vrylating op borgtog is dat al drie verdagtes geen vorige veroordelings het nie, sterk familiebande het en almal werk.
Gewilde kuierplek straat, Tweede Laan. Foto: Bloemfontein Courant
Mphepuka is in Maart vanjaar as sekuriteitswag by The Other Venue (TOV) aangestel. Sy regsverteenwoordiger beweer hy het probeer om die aanranding van die oorledene te keer.
Dlabu is sedert 2020 ’n sekuriteitswag by TOV. Die hof het gehoor dat hy nie seker is van die status van sy werk nie, omdat hy nog nie met die werkgewer gepraat het nie. Hy het homself aan die polisie oorgegee op die dag van sy inhegtenisneming op advies van ’n prokureur.
Horn werk deeltyds as sekuriteitswag by TOV.
‘Die eienaars van die kuierplek wil nie die verdagtes se diens bevestig nie’
David Ramasoala, ondersoekbeampte, het gesê die eienaars van die kuierplek wil nie die verdagtes se diens, permanent of tydelik, bevestig nie.
Die liggaam van die oorledene (43) is Maandag 22 Julie in die parkeerterrein oorkant The Other Venue in Tweedelaan, Westdene, gevind.
Video’s op sosiale media wys hoe verskeie mans ’n man in Tweedelaan aanrand. In die video kan gesien word hoe die slagoffer geskop en met sy kop op die teer oor die pad gesleep word.
Daar is ook op hom gespring. Hy is daarna na die oop parkeerterrein gesleep.
Sosialemediagebruikers soos Bongani Zwane se kommentaar lui: “Daardie uitsmyters was onnodig, onmenslik en barbaars in hul benadering.
‘Jy sleep ’n lewelose liggaam deur die pad en gooi dit net neer’
“Uitsmyters is daar om ons te beskerm, nie om ons dood te maak nie. Hoekom veg teen iemand wat weghardloop, veral iemand wat dronk is?
“Erger nog, dis drie van julle teen ’n maer, lewelose liggaam. En selfs erger, jy sleep ’n lewelose liggaam deur die pad en gooi dit net neer; los die liggaam daar, en rapporteer nie eers hierdie voorval by wetstoepassers of jou base, die klubeienaars, nie.”
Die Vrystaatse Dobbel-en-drankraad het intussen die kuierplek se lisensie tydelik opgeskort.