On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes gesoek ná moord naby Clarens

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:34 Tue, 06 Aug 2024

Verdagtes gesoek ná moord naby Clarens | News Article
Veeboere moet hul vee behoorlik merk. Foto: OFM

“Motlokoa is noodlottig gewond. Die drie ander mans het gevlug en hulp by die plaaslike polisiekantoor gaan soek.”

Die polisie in Clarens soek steeds na verdagtes nadat ’n man se liggaam in die berge naby dié Oos-Vrystaatse dorpie gevind is.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord, poging tot moord en diefstal van ’n vuurwapen nadat ’n 54-jarige man van Kgubetswana Saterdag (3/8) met skietwonde in die Drakensberg gevind is, sê ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder.

“Abednigo Motlokoa en drie skaapwagters het beesspore gevolg wat hulle na die berg gelei het. Die veediewe wat besef het hulle word agtervolg, het egter op die vier mans begin skiet. Motlokoa is noodlottig gewond. Die drie ander mans het gevlug en hulp by die plaaslike polisiekantoor gaan soek.” 

‘Twee gesteelde beeste is teruggevind’

Hy sê die polisie het inligting ontvang oor 19 beeste wat van een van die plase in die distrik gesteel is. Hulle het ondersoek ingestel en die slagoffer dood aangetref (ná die skietery in die berg). Na bewering is sy private vuurwapen gesteel. Slegs twee van die 19 gesteelde beeste is teruggevind.

Enigiemand met meer inligting kan die Clarens-polisiekantoor by 058 256 6000/01 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

Tel jou vee minstens een keer per week. Foto: RPO

Die polisie vra boere om die volgende veiligheidswenke toe te pas om hul vee te beskerm:

  • Verseker dat alle heinings en hekke in goeie werkende toestand gehou word.
  • Herstel gate in en onder heinings onmiddellik.
  • Eienaars moet nie net delegeer nie, maar ook beheer neem deur hul vee self te inspekteer.
  • Afgeleë opritte waar vee gelaai word, moet altyd gesluit of versper wees.
  • Veekrale en -kampe moet beveilig wees.
  • In die beplanning van veekampe is dit raadsaam om die vorming van hoeke langs paaie te vermy omdat dit die ideale geleentheid vir veediewe skep om vee bymekaar te jaag en op te laai.
  • Wanneer jy ’n bykomende plaas koop, oorweeg dit om een wat naby jou woonplaas is aan te skaf.
  • Wees veral waaksaam wanneer dit volmaan is, oor naweke en aan die einde of begin van ’n maand, of gedurende tydperke wat jy uit ondervinding weet veediefstal, oftewel slag vir die pot, plaasvind.
  • Ken jou bure. 
  • Die byhou van ’n deeglike veeregister kan nie genoeg beklemtoon word nie.
  • Merk jou vee! Gaan na jou plaaslike polisie se veediefstaleenheid waar aansoekvorms beskikbaar is en waar jy kan aansoek doen vir handelsmerksertifikate van die Departement van Landbou.
  • Veeboere moet hul vee behoorlik merk volgens die Wet op Diere-identifikasie verkieslik deur hulle te brandmerk.
  • Boere word aangeraai om in tegnologie soos kringtelevisiekameras te belê.
  • Indien jy vreemde diere of verdagte persone by ’n veepos opmerk, meld dit dadelik by die polisie en jou bure aan.

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.