Central SA
Bloemfonteinse museum te sien in nuwe dokumentêr─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:34 Tue, 06 Aug 2024
“Hierdie dokumentêr wil inspirerende verhale vertel oor die uitdagings en ontberings van gekleurde mense tydens Suid-Afrika se apartheidsera (1948–1994).”
Die Nasionale Museum in Bloemfontein sal eersdaags in ’n dokumentêr verskyn.
Brand South Africa, die amptelike bemarkingsagentskap wat verantwoordelik is vir die bestuur van die land se handelsmerkreputasie, het die Nasionale Museum besoek om beeldmateriaal vir ’n eersdaagse dokumentêr te verfilm, sê Derek du Bruyn, historikus by die museum.
“Hierdie dokumentêr wil inspirerende verhale vertel oor die uitdagings en ontberings van gekleurde mense tydens Suid-Afrika se apartheidsera (1948–1994).”

Die museum. Foto: Wikipedia
Volgens Du Bruyn reis Matthew Jones, ’n vervaardiger by Brand South Africa, en die kameraman Wayne du Preez die land plat om persoonlike verhale van Suid-Afrikaners wat dertig jaar gelede die land se oorgang na demokrasie beleef het, op te neem en te verfilm.
Hy vertel tydens hul besoek aan die museum het Jones en Du Preez beeldmateriaal van die Batho-uitstalling, die historiese straattoneel en die geskiedenissaal vasgelê. “Matthew het baie belanggestel in die geskiedenisafdeling se Batho-projek en die mondelinge onderhoude wat met Batho-inwoners gevoer is oor hul wedervaringe tydens apartheid.”
Volgens Du Bruyn is die Batho-projek meer as net ’n uitstalling; dit is ’n bewys van die krag en veerkragtigheid van ’n gemeenskap wat soveel moes verduur. “Hierdie stories is deurslaggewend om ons verlede te verstaan en seker te maak dat toekomstige geslagte daaruit leer.”

Foto verskaf
Een van die ondervraagdes, Sophia Sesing, wat in 1936 in Batho gebore is, sal in die dokumentêr verskyn. Sophia is in 2019 deur Khotso Pudumo, ’n personeellid van die geskiedenisafdeling, vir die Batho-projek ondervra. Beeldmateriaal van Khotso wat die belangrikheid van die projek verduidelik en sy ervarings deel van onderhoude met Batho-inwoners, sal ook ingesluit word.
“Sophia se verhaal bied, soos baie ander, ’n persoonlike perspektief op die breër historiese verhaal van apartheid,” sê Du Bruyn. “Dis deur hierdie individuele stemme wat ons werklik die menslike impak van so ’n onderdrukkende stelsel kan begryp.”
Hy meen deur hierdie stories te deel, bewaar ’n mens nie net geskiedenis nie, maar bevorder ’n dieper begrip van die kollektiewe reis as ’n nasie. “Dit gaan daaroor om diegene wat deur apartheid geleef het, te vereer en hul moed te vier,” sê Du Bruyn.
Die dokumentêr se bekendstellingsdatum sal binnekort bekend gemaak word.
OFM Nuus mvh
