Central SA
Polisie loof dapperheid van polisievrou wat aan diens sterf─── HEIDRÈ MALGAS 07:00 Wed, 07 Aug 2024
“Die jaarlikse herdenkingsdag vind plaas op Sondag 1 September. Sers. Kediemetse Masilo, wat aan Kimberley se blitspatrollie verbonde was, is een van die beamptes wat gehuldig word.”
’n Polisiekaptein, wat in die uitvoering van haar pligte in Kimberley gesterf het toe sy ontwapen en noodlottig geskiet is, is een van amper 40 beamptes wat binnekort vereer sal word nadat hulle die hoogste prys betaal het.
“Tydens die polisiediens se Nasionale Herdenkingsdag sal 39 van sy lede gehuldig word wat tussen 1 April verlede jaar en 31 Maart vanjaar in die uitvoering van hul pligte gesterf het,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

Konst. Okaetse Mandindi en sers. Kediemetse Masilo. Foto’s verskaf
Die jaarlikse herdenkingsdag vind plaas op Sondag 1 September. Sers. Kediemetse Masilo, wat aan Kimberley se blitspatrollie verbonde was, is een van die beamptes wat gehuldig word, in haar geval veral met die oog op Vrouemaand in Augustus.
‘Alberts is in hegtenis geneem vir moorde en diefstal’
Daniel Alberts (38) het op 22 Augustus ’n motor in Bloemfontein gesteel en na Kimberley gery waar die polisie hom in ’n jaagtog probeer in hegtenis neem het.
Masilo, wat 16 jaar diens gehad het, en ’n kollega, konst. Okaetse Mandindi, is albei noodlottig deur Alberts gewond, albei blykbaar vyf keer.
Alberts, wat volgens die polisie ’n gewoontemisdadiger is, is in hegtenis geneem vir moorde en diefstal. ’n Jaar later word hy steeds deur die polisie aangehou.
‘Masilo se naam sal in die nasionale gedenkmuur by die Uniegebou gegraveer word’
Die saak dien voor die Kimberley-landdroshof waar Alberts tereg staan op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, en een van motordiefstal. Hy kom na verwagting Maandag (12/8) weer voor.
Masilo laat haar lewensmaat en twee kinders agter.
Mathae sê Masilo se naam sal op die gedenkdag in die polisiediens se nasionale gedenkmuur by die Uniegebou in Pretoria gegraveer word om haar nagedagtenis te verewig. Dit simboliseer ook die land se dankbaarheid vir haar dapperheid, lojaliteit en die opofferings wat sy gemaak het om die mense van Suid-Afrika te dien en te beskerm.
OFM Nuus mvh/cg

