Central SA
Man vas ná skietvoorval in Rustenburg─── HEIDRÈ MALGAS 11:05 Mon, 12 Aug 2024
“Die chaos het Woensdag omstreeks middagete begin toe die verdagte glo sy eksmeisie gevra het vir ’n saamrygeleentheid na Rustenburg.
’n Man (47) van Rustenburg verskyn vandag (12/8) in die Rustenburgse landdroshof op aanklagte van poging tot moord en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied. “Die chaos het Woensdag omstreeks middagete begin toe die verdagte glo sy eksmeisie gevra het vir ’n saamrygeleentheid na Rustenburg,” sê Adéle Myburg, Noordwes-polisiewoordvoerder.
“Met hul terugreis het hy gevra om by haar broer se huis in Boitekong stil te hou. Hulle het gestry waarna die man ’n vuurwapen uitgehaal en op sy eksmeisie geskiet het.” Myburg sê gelukkig was die skoot mis en kon sy weghardloop. Sy het uiteindelik ’n polisiebeampte raakgeloop en die voorval aangemeld. “By die huis het haar broer daarin geslaag om die man te oorweldig en te ontwapen.”
Tot almal se verbasing het die broer die vuurwapen aan die man terugbesorg nadat hy bedaar het en die verdagte het die perseel verlaat. Polisiebeamptes het kort daarna opgedaag, maar die verdagte het reeds gevlug.
Die man het toe na ’n nabygeleë drankwinkel gegaan waar hy op die omstanders begin skiet het. Inwoners het ingegryp en hom ontwapen en aangerand. Die polisie het vinnig opgedaag en hom in hegtenis geneem en beslag gelê op sy vuurwapen. Hierdie voorval het die debat oor vuurwapenbeheer en gemeenskapsveiligheid laat opvlam.
“Die polisie moedig vroue dié Vrouemaand aan om gevalle van geslagsgeweld en seksuele misdrywe aan te meld en so die kringloop van geweld te breek,” sê Herna Els, provinsiale hoof van die eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe.
“Hoe meer bewustheid daar oor geslagsgeweld, enige vorm van mishandeling en seksuele misdrywe geskep word, hoe gemakliker begin vroue voel om die misdade aan te meld, verduidelik Els. Dit kan so klein wees soos intimidasie of dreigemente – meld dit aan.
Sy doen ’n beroep op vroue om mishandeling so gou moontlik aan te meld en verbind te wees om die proses tot die einde te sien. Daar is regtig ’n lang ry vroue en mans in blou wat wag om elke slagoffer wat mishandeling ervaar of probleme ondervind te help.

Lt.kol. AJ Cilliers en brig. Herna Els tydens 'n voorlegging oor Vrouemaand. Foto: Zenande Mpame
As jy weet dat iemand mishandel word moet jy dit aanmeld. Daar is geen beperking op die tydsraamwerk waarin mishandeling aangemeld kan word nie. As ’n slagoffer nie by ’n polisiekantoor kan uitkom of ’n verslag kan indien nie kan iemand dit namens die slagoffer doen.
Bel die Stop MIsdaadnommer by 08600 10111 om mishandeling aan te meld en bel 080 048 2482, of *120*7867#/SMS “help” om geslagsgeweld aan te meld.
OFM Nuus dg
