On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Meer as halfmiljoen ingesamel vir Bloemfonteinse helikoptervlieënier ná ongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Tue, 13 Aug 2024

Meer as halfmiljoen ingesamel vir Bloemfonteinse helikoptervlieënier ná ongeluk | News Article
Jagpakkette en wildskenkings deur Schalk van Zyl Wilddienste, Helicom Wildlife Services en Amanzi Private Game Reserve is opgeveil om Griesel te ondersteun. Foto verskaf

“Ondanks die omstandighede het Griesel Woensdag (7/8) die eerste keer sy bewussyn herwin en tekens van herstel getoon. Hy sal moontlik Dinsdag (13/8) na ’n gewone saal geskuif word.”

Meer as R500 000 is ingesamel vir die jong Bloemfonteinse helikoptervlieënier wat ernstig beseer is in ’n fratsongeluk. 

Van die opbrengste van die wildsveiling wat op Saterdag (10/8) gehou is, sal aan Errol Griesel (30) geskenk word, sê Schalk van Zyl, ’n vriend en een van die organiseerders van die veiling. Griesel is Donderdag (1/8) ernstig beseer tydens ’n fratsongeluk terwyl hy gehelp het met ’n wildvangoperasie by Jagersfontein, vertel Van Zyl.

“Ons vermoed een van die helikopterlemme het hom in die gesig getref toe die helikopter die grond tref. Gedurende die veiling, wat reeds Maandag (5/8) in die Amanzi-wildreservaat naby Brandfort begin het, is meer as R500 000 ingesamel vir Griesel,” sê Van Zyl.

Errol Griesel is sedert die ongeluk in die hoësorgeenheid in Mediclinic. Foto verskaf

Jagpakkette en wildskenkings deur Schalk van Zyl Wilddienste, Helicom Wildlife Services en Amanzi Private Game Reserve is opgeveil om Griesel te ondersteun. Die geleentheid is gereël deur Schalk van Zyl Wildlife Services en HPJ Chopper Worx.

Griesel is sedert die ongeluk in die hoësorgeenheid in Mediclinic, Bloemfontein, met erge kop- en gesigbeserings.

“Ondanks die omstandighede het Griesel Woensdag (7/8) die eerste keer sy bewussyn herwin en tekens van herstel getoon. Hy sal moontlik Dinsdag (13/8) na ’n gewone saal geskuif word,” sê Van Zyl.

Errol Griesel is in Mediclinic met erge kop- en gesigbeserings. Foto verskaf

“Die insameling is vir die mediese uitgawes wat sy versekering nie dek nie, asook enige ander onvoorsiene koste wat uit die ongeluk kan voortspruit. Die ingesamelde fondse sal aan Vleissentraal betaal word, wat dan die geld aan hom sal oorplaas.”

In ’n ander voorval is Hannes Pieterse (50), ’n inwoner van Bloemfontein, Woensdag (7/8) oorlede nadat hy op 27 Julie in ’n motorfietsongeluk betrokke was.

Hannes en sy vrou, Helene. Foto: Facebook

Pieterse het 20 ribfrakture opgedoen en was sedertdien in ’n waakeenheid in die stad. Die bestuurder van die motor wat hom getref het, het weggejaag en word nog gesoek, sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Pieterse het in 2017 ’n valskermongeluk oorleef nadat hy sy nek en twaalf ribbes gebreek het. Sy linkerbeen was ook op vier plekke gebreek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.