Central SA
‘Kommerwekkend dat LUR spog oor naamsveranderinge’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:09 Tue, 13 Aug 2024
“Mense wat die veranderings ondersteun, is nie ingelig oor die administratiewe koste en gevolge daarvan nie.”
Die voorgesette verandering van plekname skep ’n illusie dat die owerheid besig is met effektiewe bestuur.
“AfriForum beskou dit egter as ’n duur oefening waarmee swak presterende owerhede besig is,” sê Alana Bailey, die burgerregteorganisasie se hoof van kultuursake.
“Dis kommerwekkend dat die Oos-Kaapse LUR vir Sport, Kuns en Kultuur, Sibulele Ngongo, onlangs in haar begrotingstoespraak beklemtoon het dat dié provinsie al meer plekname verander het as enige ander provinsie, asof dit ’n kompetisie is en geen ontwrigting veroorsaak nie,” sê Bailey.

Alana Bailey, die burgerregteorganisasie se hoof van kultuursake. Foto verskaf
Sy sê pleknaamveranderings is slegs sinvol wanneer kwetsende name en verkeerde spelwyses reggestel word. “Tans is daar egter ’n lukrake proses aan die gang waar voorstelle vir naamsveranderings om sogenaamde ‘transformasie van die kulturele erfenis’ en ‘herstellende geregtigheid’ plaasvind, om die LUR aan te haal,” voeg Bailey by.
Mense wat die veranderings ondersteun, is nie ingelig oor die administratiewe koste en gevolge daarvan nie, meen sy. “Die indruk word voorts geskep dat inwoners wat geraak word oor die algemeen behoefte aan die veranderings het, terwyl verskeie prosesse, insluitend openbare oorlegpleging en selfs ’n landwye konsultasieproses deur ’n ministeriële taakspan, al ervaar het dat mense veral werksgeleenthede en goeiedienslewering verlang.”

Foto: Business Live
Sy sê simboliese kulturele aksies soos naamsveranderings en die verskuiwing van monumente met openbare geld is allermins onder hulle dringendste behoeftes. “Dié soort dade slaag ongelukkig wel daarin om gemeenskappe te polariseer, wat teen die huidige politieke klimaat indruis en ’n kultuur van wedersydse erkenning en respek ondermyn.”
AfriForum beveel aan dat gemeenskappe wat deur voorgestelde naamsveranderings geraak word, die media dophou vir geleenthede vir openbare oorlegpleging en daaraan deelneem. “Hulle kan ook seker maak of die prosesse wat deur die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name voorgeskryf word, behoorlik nagekom word,” sê Bailey.
