Central SA
Kimberley: Vermeende moordenaar van blitspatrollielede weer in hof─── HEIDRÈ MALGAS 16:01 Tue, 13 Aug 2024

“Die saak teen Alberts is tot Vrydag (16/8) uitgestel vir Alberts om ’n privaat regsverteenwoordiger aan te stel.”
Die vermeende moordenaar en kaper Daniel Wilfred Alberts (38) het in die landdroshof in Kimberley verskyn op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, asook die diefstal van ’n motor en ’n skootrekenaar.
Die saak teen Alberts is tot Vrydag (16/8) uitgestel vir Alberts om ’n privaat regsverteenwoordiger aan te stel, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Daniel Wilfred Alberts (38) se sielkundige evaluering is in April afgehandel. “Hy was agt maande lank op die waglys ná sy inhegtenisneming voor hy opgeneem kon word,” sê Senokoatsane.
Daniel Wilfred Alberts was in Augustus in ’n ongeluk betrokke toe hy van die polisie probeer vlug het. Foto verskaf
Die Kimberley-distrikshof het vroeër verneem hy is ’n psigiatriese pasiënt wat voorheen al in verskeie psigiatriese fasiliteite opgeneem is.
Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van die blitspatrollie in Kimberley was op 22 Augustus besig om inligting oor ’n gesteelde voertuig op te volg. Die voertuig was van Bloemfontein onderweg en is later in Kimberley gewaar.
Alberts het tot by ’n Transnet-perseel gejaag waar hy in ’n ongeluk betrokke was en toe weggehardloop het. Die twee polisielede het hom agternagesit en hy het na bewering op hulle losgebrand. Alberts is dieselfde dag in hegtenis geneem.
OFM Nuus het vroeër berig Ofentse Mokae, Noord-Kaapse DA-woordvoerder, het gesê die DA veroordeel die dubbele polisiemoord in Kimberley.
Konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo. Foto’s verskaf
“Ons eer konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo. Hulle het gesterf toe hulle probeer het om ’n veiliger wêreld te skep met minder misdadigers op ons strate,” het Mokae gesê. “Ons is veral bekommerd oor berigte dat die oortreder ’n herhaalde misdadiger is.”
Sers. Masilo het in 2007 by die polisie aangesluit en het 16 jaar diens gehad ten tyde van haar dood, en konst. Mandindi het in 2012 by die polisie aangesluit.
’n Polisiekaptein, wat in die uitvoering van haar pligte in Kimberley gesterf het toe sy ontwapen en noodlottig geskiet is, is een van amper 40 beamptes wat 1 September vereer sal word nadat hulle die hoogste prys betaal het.
Masilo se naam sal op die gedenkdag in die polisiediens se nasionale gedenkmuur by die Uniegebou in Pretoria gegraveer word om haar nagedagtenis te verewig. Dit simboliseer ook die land se dankbaarheid vir haar dapperheid, lojaliteit en die opofferings wat sy gemaak het om die mense van Suid-Afrika te dien en te beskerm.