On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Rioolkrisis: Dringende ingryping nodig in Hillside View en Hamilton, Bloemfontein

───   HEIDRÈ MALGAS 15:40 Fri, 16 Aug 2024

Rioolkrisis: Dringende ingryping nodig in Hillside View en Hamilton, Bloemfontein  | News Article
Verskeie mangate op eiendomme in Hillside View is geblokkeer. Foto verskaf

“Verskeie mangate op eiendomme in Hillside View is geblokkeer en dien as die bron van hierdie rioolstrome.”

Die VF Plus vra Mangaung-metro moet dringend aandag skenk aan die aanhoudende rioolkrisis wat die voorstede Hillside View en Hamilton raak. Die situasie het eskaleer ná verskeie klagtes van plaaslike ondernemings en inwoners.

“Tydens ’n oorsigbesoek het partylede ernstige probleme ontdek, insluitend rioolvuil wat vanaf die Hillside View woongebied deur Hamilton se sakegebied vloei,” sê Valerie de Kock, VF Plus-raadslid vir Manguang-metro. “Hierdie onbehandelde rioolvuil besmet stormwaterkanale wat na die Rooidam-omgewing lei.”

Verskeie mangate op eiendomme in Hillside View is geblokkeer en dien as die bron van hierdie rioolstrome.

Die VF Plus beoog om hierdie onvolhoubare situasie noukeurig te monitor. Foto verskaf

Sy sê skokkend genoeg is daar ’n herder gevind wat sy skape laat wei naby ’n dam wat in ’n rioolmoeras verander het.

Die VF Plus het formeel aan Sello More, Mangaung se stadsbestuurder, kennis gegee van die besoedeling en dring aan op onmiddellike aksie. Die metro het bevestig dat die Hillside View-rioolstelsel tans deur sand verstop is, en kontrakteurs is aangestel om nuwe pompe te installeer.

“Die metro het erken dat die pyplyn selde skoongemaak word, en wanneer dit wel skoongemaak word, is die werk dikwels onvolledig.”

‘Hierdie rioolbesoedeling hou ’n gesondheidsrisiko vir inwoners in’

Die VF Plus beoog om hierdie onvolhoubare situasie noukeurig te moniteer om die ekostelsel en natuurlike waterbronne in en om Bloemfontein te beskerm. Dié rioolbesoedeling hou ’n gesondheidsrisiko vir inwoners in en het ’n regstreekse uitwerking op die bedrywighede van Hamilton se ondernemings.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.