On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Upington-man skiet glo vrou, homself

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:56 Tue, 20 Aug 2024

Upington-man skiet glo vrou, homself | News Article
Foto: iStock

“Die polisie het die paartjie met skietwonde in hul woning aangetref.”

’n Upington-paartjie is Maandag (19/8) dood hul in huis in Oosterville aangetref. Die man het na bewering sy vrou en toe homself geskiet, sê sers. Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. “Die polisie het die paartjie met skietwonde in hul woning aangetref. Hulle is op die toneel dood verklaar.”

Kenners sê verskeie gevaarligte flikker wanneer iemand dit oorweeg om hul lewe te neem. Die onlangse dood van ’n familielid of vorige selfdoodpogings kan moontlik ook bydraende faktore wees.

Die individue noem ook soms dat hulle van plan is om hul lewe te beëindig. Die meeste mense wat selfdood probeer toepas, kommunikeer eers hul bedoelings deur middel van dade of woorde voordat hulle die daad by die woord voeg. Enige dreigement van selfdood moet ernstig opgeneem word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG) dui die volgende waarskuwings daarop dat iemand oorweeg om hul lewe te beëindig:

  • Gemoedsverandering of langdurige hartseer en depressie.
  • Gevoel van wanhoop.
  • Onlangse trauma of groot lewensveranderinge en stressors.
  • Gevaarlike of roekelose gedrag.
  • Om oor die dood te praat en die behoefte om te sterf as die enigste uitweg te beskou.

Hoe om iemand te help wat selfdood oorweeg: 

  • Praat openlik en saaklik oor selfmoord.
  • Wees bereid om te luister. Laat die persoon toe om sy gevoelens te verwoord. Aanvaar die gevoelens.
  • Moenie oordeel nie. Moenie debatteer of selfdood reg of verkeerd is, en of gevoelens goed of sleg is nie. Moenie lesings gee oor die waarde van lewe nie.
  • Raak betrokke. Wees beskikbaar. Toon belangstelling en ondersteuning.
  • Moenie hom of haar uitdaag om dit te doen nie.
  • Moenie geskok optree nie. Dit sal verwydering tussen julle bring.
  • Moenie instem om enigiets geheim te hou nie. Soek ondersteuning.
  • Bied hoop dat alternatiewe beskikbaar is en gee opregte gerusstelling.
  • Vra of jy ’n familielid mag nader.
  • Tree op. Verwyder middele, soos gewere of opgehoopte pille.
  • Moenie hulle alleen los nie; kry hulp van persone wat spesialiseer in krisisingryping en selfdoodvoorkoming.

Indien nodig, kontak die polisie.

Besoek SADAG aanlyn. Die tolvrye nommer is 08600 567 567 of stuur ’n SMS na 31393. Enigeen kan namens ’n geliefde of self bel. Opgeleide beraders sal die persoon na ondersteuningsgroepe en plaaslike beraders verwys.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.