On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Video: Hartswater-ouers soek steeds antwoord ná seun se dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:16 Tue, 20 Aug 2024

Video: Hartswater-ouers soek steeds antwoord ná seun se dood | News Article
Foto: skermgreep uit SABC 2 News-video

“Die Noord-Kaapse departement van gesondheid doen ’n beroep op alle ouers en voogde om te verseker dat hul kinders roetine-inentings ontvang soos op hul kliniekkaarte uiteengesit.”

Die Noord-Kaapse departement van gesondheid doen ’n beroep op alle ouers en voogde om te verseker dat hul kinders roetine-inentings ontvang soos op hul kliniekkaarte uiteengesit.

Hierdie belangrike stap is noodsaaklik vir die versterking van die jong kinders se immuunstelsels om hulle te help om infeksies te bestry.

’n Seuntjie van 21 maande is op 8 Junie in die Connie Voster-hospitaal op Hartswater opgeneem en vyf dae later oorlede. Volgens die departement was die kind ernstig siek en het hy blykbaar twee geskeduleerde inentings oorgeslaan.

‘Kelepe beskuldig die hospitaal van nalatigheid’

Ten spyte van dokters en verpleegsters se beste pogings is die kind op 13 Junie oorlede, sê die departement. Maar byna twee maande ná die voorval soek die ouers steeds antwoorde oor hul kind se dood.

Sy pa, Neo Kelepe, het sy frustrasies teenoor SABC 2 News uitgespreek en beweer die hospitaal het versuim om sy seun aan ’n ventilator te koppel. Kelepe beskuldig die hospitaal van nalatigheid en beweer dat dit nie die gespesialiseerde sorg gebied het wat sy seun nodig gehad het nie.

“Die dokters het die verpleegsters Sondag opdrag gegee en daar is self in die lêer geskryf dat my seun vir ’n X-straal geneem moes word en op suurstof geplaas moes gewees het omdat hy gesukkel het om asem te haal. Maar die verpleegsters het dit nooit gedoen nie.”

Volgens Kelepe het die dokter weer die Maandag aan die verpleegsters gesê dat sy seun op suurstof gesit moes gewees het en ook vir ’n X-straal moes gegaan het om te bepaal wat skort. “Maar hulle het weereens nie sy opdrag uitgevoer nie,” het Kelepe gesê.

Die kind se dood het die gesin diep geraak. Kelepe sê dat sy seun se ma sukkel om te aanvaar wat gebeur het. “Dis traumaties vir haar. Sy huil elke aand.

“Ek kan ook nie konsentreer op my daaglikse lewe nie, want ek voel ek het hom ook in die steek gelaat. Ek moes verskillende opsies oorweeg het om vir hom spesiale mediese aandag te kry. Maar ek het nie, want ek het ’n staatshospitaal vertrou.”

Volgens Kelepe gaan hulle regsadvies inwin oor hul seun se dood.

Die departement beklemtoon intussen hoe belangrik dit is om kinders onder vyf jaar onmiddellik na die naaste kliniek of hospitaal te bring indien hulle tekens van siekte toon, sonder enige vertraging.

Die departement betuig sy innige meegevoel met die familie in hierdie moeilike tyd.

OFM Nuus het Lulu Mxekexo, kommunikasiehoof van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement, om kommentaar genader, maar hy het nie geantwoord nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.