On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse juffrou, wat voluit gelewe het, gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Thu, 22 Aug 2024

Bloemfonteinse juffrou, wat voluit gelewe het, gegroet | News Article
Therona Jones, ’n onderwyser by St. Michael’s, is Sondag (18/8) in Mediclinic Bloemfontein aan orgaanversaking dood. Foto: Facebook

“Sy was lief vir sport, veral netbal en rugby. Sy het altyd tyd gemaak vir haar vriende en kollegas. Sy was baie lief vir haar twee worshonde en hulle was haar alles.”

’n Diens word Donderdagmiddag (22/8) gehou vir ’n Bloemfonteinse onderwyseres wat die naweek oorlede is.

Therona Jones, ’n onderwyser by St. Michael’s, is Sondag (18/8) omstreeks 08:30 in die waakeenheid in Mediclinic Bloemfontein aan orgaanversaking dood, sê Noèline Stumpfe, die skoolhoof.

“Therona is sowat vyf weke voor haar dood in die waakeenheid opgeneem nadat sy asemhalingsprobleme ervaar het. Sy is op 9 Augustus na ’n gewone saal oorgeplaas, maar haar toestand het vererger, en sy moes verlede Dinsdag (13/8) terugkeer na die waakeenheid,” vertel Stumpfe.

Jones, oorspronklik van die Noord-Kaap, was die afgelope sewe jaar verbonde aan St. Michael’s, waar sy wiskunde aan gr. 5- en 6-leerders gegee het. Sy was ook in ’n stadium die hoof van junior netbal.

Jones het voorheen by onder meer die Gekombineerde Skool Koffiefontein en die Laerskool Vastrap in Rustenburg skoolgehou.

Volgens Stumpfe is Jones se dood ’n geweldige verlies vir die skool, aangesien hulle soos ’n familie is. “Therona was ’n besonderse mens wat ’n groot passie vir haar werk en die kinders gehad het. Die ‘Lieveheersbeestjie’-tema van haar klas het Wiskunde ’n aangename ervaring vir haar klasse gemaak.

“Sy was lief vir sport, veral netbal en rugby. Sy het altyd tyd gemaak vir haar vriende en kollegas. Sy was baie lief vir haar twee worshonde en hulle was haar alles. Sy het voluit geleef en haar Christelike waardes uitgeleef.”

Stumpfe beskryf haar as ’n ongelooflike harde werker wat altyd die ekstra myl geloop het vir die kinders en die skool. “Jy kon altyd op haar staatmaak; sy was net ’n wonderlike mens,” sê die skoolhoof oor haar kollega en vriendin.

Donderdagmiddag se diens om 16:00 in die skoolkapel word gevolg deur ’n gedenkdiens in die skoolkapel Vrydag om 12:45.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.