Central SA
Polisie se Operasie Shanela behaal sukses op Upington─── ZENANDE MPAME 09:47 Sun, 25 Aug 2024

“Die span het altesame 13 verdagtes tydens die operasie in hegtenis geneem.”
Altesame 13 verdagtes is die naweek op Upington aangekeer vir uiteenlopende misdade.
Die aanklagte wissel van aanranding met die opset om ernstig te beseer, dwelmhandel en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. ’n Ongedokumenteerde buitelander is ook vasgetrek.
Operasie Shanela, wat deur die Noord-Kaapse taakspan en plaaslike polisielede van Upington en omliggende gebiede uitgevoer is, het Saterdag (24/8) aansienlike sukses behaal.
Die span het twee verdagtes in die ZF Mgcawu-distrik opgespoor wat gesoek is vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Polisiebeamptes tydens Operasie Shanela. Foto: SAPD
“Die lede het voortgegaan met soek- en beslagleggingsoperasies in die Paballelo-omgewing waartydens vyf huise deursoek is,” sê Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Nege verdagtes is in hegtenis geneem vir die handeldryf in dwelms en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Een van die verdagtes is as ’n ongedokumenteerde buitelander in hegtenis geneem.
Die span het beslag gelê op 90 vermeende mandrax-tablette met 'n geraamde straatwaarde van R9 000 en ’n onbekende bedrag kontant wat vermoedelik die opbrengs van dwelmhandel is. Vermoedelik gesteelde goedere is ook gekonfiskeer.
Oud-polisieman vasgetrek
Die polisie het ook op ’n klag van gesinsgeweld gereageer en ’n voormalige polisiebeampte in hegtenis geneem. Hy is in besit van ongelisensieerde ammunisie ter waarde van R11 230 gevind en sal ook daarvan aangekla word.
“Die polisie in die Noord-Kaap sal onverpoosd voortgaan om die spasie waarin misdadigers optree, al kleiner te maak,” sê Masegela.