Central SA
Noordwes: VF Plus vra kabinet vir ingryping by Ditsobotla-munisipaliteit─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:35 Wed, 28 Aug 2024
“Die minister het onderneem om die voorstelle spoedig te hersien en in verdere samesprekings met die VF Plus betrokke te raak."
Dit gaan so beroerd in die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes, die VF Plus meen ingryping deur die kabinet is dalk al raad.
Die munisipaliteit wat Lichtenburg en Coligny insluit, gaan reeds jare gebuk onder wanbestuur, korrupsie, binnegevegte en meer onlangs die vandalisering van munisipale infrastruktuur. Die VF Plus het hierdie voorstel oorhandig aan Velenkosini Hlabisa, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en provinsiale leier van Noordwes.
“Die minister het onderneem om die voorstelle spoedig te hersien en in verdere samesprekings met die VF Plus betrokke te raak,” sê hy.

Velenkosini Hlabisa. Foto: SABS News
Doeltreffende dienslewering in Ditsobotla is lankal iets van die verlede, sê hy. “Water- en kragonderbrekings is aan die orde van die dag terwyl die straat- en padinfrastruktuur versleg. Misdadigers stroop en vandaliseer byna daaglikse kritieke munisipale infrastruktuur soos kragsubstasies en waterpompe.
’n Deurlopende kultuur van wetteloosheid het posgevat, maar daar’s geen aanduiding dat die plaaslike polisie daarteen opgewasse is nie. Met die jare het talle pogings tot ingryping deur Noordwes se provinsiale regering min tot niks opgelewer.
Groenewald sê die tradisionele grondwetlike art. 139-ingrypings maak nie hond haaraf nie, omdat dit fundamenteel gebrekkig is, veral wanneer plaaslike politici en munisipale bestuur hervormingspogings saboteer.
“Die VF Plus se voorstelle behels ’n nuwe benadering waar ’n sterk nasionale interministeriële ingrypingspan met ’n kabinetsmandaat en uitvoerende magte kan ingryp om die situasie onder beheer te bring om volhoubare dienslewering te herstel.”

Michal Groenewald, VF Plus-LP en provinsiale leier van Noordwes. Foto Facebook
Groenewald sê só ’n ingrypingspan moet saamgestel word uit onder meer senior amptenare van Cogta, die polisie, die Valke en die NVG. “Dit sal verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir die wetteloosheid binne en buite die munisipaliteit, ten volle aanspreeklik gehou word.”
Inwoners van die groter Ditsobotla-gebied mag nie langer uitgelewer word aan “korrupte en misdadige elemente wat die gemeenskap en plaaslike ekonomie vernietig” nie, sê Groenewald.
Die ontplooiing van só ’n ingrypingspan kan as ’n bloudruk dien vir soortgelyke ingrypings by munisipaliteite landwyd. “Dit sal ook bewys lewer dat die regering van nasionale eenheid werklik daartoe verbind is om munisipale dienslewering en plaaslike ekonomieë te herstel.
“So sal werkskepping bevorder word wat ’n veilige leefomgewing vir alle Suid-Afrikaners sal meebring,” sê Groenewald.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
