Central SA
Simfonieorkeskonsert beloof heerlike lenteviering op Vredefort─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:55 Thu, 29 Aug 2024

“Hierdie konsert simboliseer ’n teenbeweging om die ryk tradisie van skoolmusiekonderrig te laat herleef en in stand te hou.”
Wanneer laas het jy ’n simfonieorkes sien optree?
Vir baie is dit dalk ’n herinnering of ’n onvervulde droom, maar inwoners van Vredefort en omstreke kry binnekort die kans om dit weer te beleef.
Barend Wentink. Foto verskaf
Danksy die oorweldigende positiewe reaksie op die vorige optrede deur die FAK Jeugsimfonieorkes, kry die Noordwes Jeugorkes nou kans om uiteenlopende komposisies in dié Noord-Vrystaatse dorp se sierlike klipkerk uit te voer.
Die aand, aangebied deur Erna Rademan, sluit optredes deur haar talentvolle musiekstudente sowel as lede van die publiek in. Die orkes bestaan uit 48 jong musikante, onder wie ’n hele paar van die distrikte Parys en Viljoenskroon.
Barend Wentink van Vredefort, met twee van sy drie kleinseuns. Barend Jnr. links en Pieter regs. Foto verskaf
“Ons is trots om een van ons eie, Barend Wentink (10), as deel van die orkes te hê. Sy grootouers woon steeds op Vredefort, en hoewel sy ouers in Potchefstroom woon, beskou ons hom as deel van ons gemeenskap,” sê Rademan.
Sy sê weens die afskaling van musiekonderrig in skole die laaste paar jaar kry die jeug minder geleenthede om instrumente te leer bespeel of in kore te sing. “Hierdie konsert simboliseer ’n teenbeweging om die ryk tradisie van skoolmusiekonderrig te laat herleef en in stand te hou.”
Liezel van der Merwe. Foto verskaf
Tallose goeie skoolkore is ontbind, en “duisende kinders op klein dorpies het nie meer altyd die geleentheid om ’n instrument op skool by ’n gekwalifiseerde musiekonderwyser te leer speel nie”.
Die program beloof om elke hart te betower onder leiding van die dirigente prof. Liezel van der Merwe en André Oosthuizen.
Die konsert word beplan vir Saterdag 6 September in die 101 jaar oue klipkerk van die NG Gemeente Vredefort.
André Oosthuizen. Foto verskaf
Kaartjies kos R100 vir volwassenes, terwyl laerskoolkinders dit gratis kan bywoon, “omdat ek glo elke kind moet hierdie ervaring hê en geïnspireer word om ’n instrument te leer speel,” sê Rademan.