On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

DA bekommerd oor toenemende misdaad in Vrystaat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:43 Sat, 31 Aug 2024

DA bekommerd oor toenemende misdaad in Vrystaat | News Article
Misdaad dui op ’n strafregstelsel wat besig is om te verval, sê Roy Jankielsohn van die DA. Foto: iStock

“Die toename in rooftogte is ’n aanduiding van ’n provinsie met drastiese ekonomiese agteruitgang en ’n gebrek aan hulpbronne in die polisie om doeltreffende sigbare polisiëring uit te voer.”

Kommer heers in die Vrystaat nadat dit aan die lig gekom het dat amper drie mense per dag vermoor word.

Luidens die polisie se kwartaallikse misdaadstatistiek word vyf mense elke twee dae in die Vrystaat vermoor (2,5 per dag), sê Roy Jankielsohn, DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Vrystaatse Wetgewer.

Die syfers vir Januarie tot Maart vanjaar is Vrydag (30/8) deur Senzo Mchunu, die minister van polisie, bekendgemaak. Vergeleke met dieselfde kwartaal in 2023 het moorde met 4,1% van 218 tot 227 toegeneem.


Jankielsohn sê die misdaadstatistiek dui verder daarop dat poging tot moord met 43,4% toegeneem het van 343 in dieselfde kwartaal verlede jaar tot 492 tussen Januarie en Maart 2024. “Dit is gemiddeld 5,5 per dag tussen 10 en 11 elke twee dae.

Ander misdaad, met aansienlike kwartaal-tot-kwartaal-stygings, is roof by residensiële persele en roof by nieresidensiële persele, wat onderskeidelik met 41,7% en 30,8% gestyg het.”

Hy sê die toename in rooftogte is ’n aanduiding van ’n provinsie met dramatiese ekonomiese agteruitgang en ’n gebrek aan hulpbronne in die SAPD om doeltreffende sigbare polisiëring uit te voer.


“Die Vrystaat verloor die stryd teen misdaad in die provinsie, wat dui op 'n strafregstelsel wat besig is om te verval,” sê Jankielsohn. “Die beste afskrikmiddel vir voornemende misdadigers bly die wete dat as jy ’n misdaad pleeg, jy deur die professionele polisiediens opgespoor sal word, deur funksionele howe skuldig bevind en deur ’n doeltreffende korrektiewe diens gestraf sal word.”

Jankielsohn sê die DA is oortuig dat die private lede se gemeenskapspolisiëringswetsontwerp wat in die Vrystaatse wetgewer ter tafel gelê is, sal help met die bekamping van misdaad in die provinsie.

Volgens die syfers word gemiddeld tien vroue en drie kinders elke dag in Suid-Afrika vermoor en  word elke 12 minute ‘n verkragting aangemeld.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.