Central SA
Geslagsgeweld in Vrystaat oorskadu Vrouemaand – Samwu─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:24 Sun, 01 Sep 2024
“Ons word gekonfronteer met ’n bitter ironie: ’n maand wat bedoel is om die krag, veerkragtigheid en prestasies van vroue te vier, is eerder oorskadu deur die wrede moorde op daardie einste vroue.”
Terwyl Suid-Afrika die herdenking van Vrouemaand afsluit, eis die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) in die Vrystaat dringende en daadwerklike optrede teen geslagsgeweld.
Samwu in die Vrystaat bevind hom in ’n toestand van rou en verontwaardiging, sê Thabang Tseuoa, provinsiale sekretaris.
“Ons word gekonfronteer met ’n bitter ironie: ’n maand wat bedoel is om die krag, veerkragtigheid en prestasies van vroue te vier, is eerder oorskadu deur die wrede moorde op daardie einste vroue wat die ruggraat van ons gesinne, gemeenskappe en die breë samelewing vorm,” sê Tseuoa.
FREE STATE MEC Maqueen Letsoha-Mathae Addresses the people outside Free State high court on issues of GBV and kidnapping around Free State. @ANCParliament #ANC #GBV pic.twitter.com/rJViCbzIQT
— Baholoholo (@baholoholo2324) July 2, 2024
Hy sê die die feit dat hierdie moorde plaasgevind het in die aanloop tot en tydens Vrouemaand – ’n tyd wat bedoel is vir besinning en die verering van opofferings van vroue wat vir ons nasie se vryheid geveg het – maak hierdie verliese selfs meer aangrypend en pynliker.
Volgens Tseuoa veroordeel Samwu ten sterkste alle vorme van geslagsgeweld.
“Hierdie plaag is nie net ’n skending van menseregte nie; dit is ’n aanval op die struktuur van ons samelewing. Dit bedreig die veiligheid, waardigheid en vryheid van elke vrou, asook die gesondheid en sekuriteit van ons nasie as geheel.”
#SAMWU Free State says, 'No to the killing of women and children' #StopGenderBasedViolence@SABCNews @UN_Women @SAPoliceService @LesediFM pic.twitter.com/28NMhJJZqC
— @COSATU Today (@_cosatu) August 28, 2024
Tseuoa sê hulle erken die diep en blywende trauma wat geslagsgeweld aan slagoffers, hul gesinne en gemeenskappe toedien. “Hierdie geweld bou siklusse van ongelykheid, armoede en onreg voort. Dit ondermyn die waardes van respek, gelykheid en veiligheid wat noodsaaklik is vir ’n regverdige en menslike samelewing.”
Samwu doen ’n beroep op vinnige en vasbeslote optredes om die epidemie van geslagsgeweld te bekamp.
Hy maak dit duidelik dat oortreders vervolg moet word sonder die moontlikheid van borgtog. Verpligte minimumvonnisse moet opgelê word om te verseker dat geregtigheid geskied. “Ons doen ook ’n beroep op die regering om ondersteuningstelsels vir oorlewendes te versterk, insluitend toeganklike skuilings, regshulp en beradingsdienste, terwyl landwye opvoedkundige veldtogte begin word om skadelike geslagsnorme uit te daag en ’n kultuur van respek en gelykheid te bevorder.”
‘Saam moet ons ’n wêreld skep waar elke vrou sonder vrees kan leef’
Daarbenewens beklemtoon Samwu die behoefte aan gemeenskapsbetrokkenheid en hervorming binne die polisie en regstelsels. “Gemeenskappe moet bemagtig word om slagoffers te beskerm en oortreders aanspreeklik te hou, terwyl wetstoepassing en die regbank gespesialiseerde opleiding vereis om gevalle van geslagsgeweld te hanteer met die dringendheid wat dit vereis.”
Volgens Tseuoa bly Samwu vasberade in sy verbintenis tot die bevordering van ’n omgewing van geen verdraagsaamheid teenoor geslagsgeweld nie, maar hy voeg by dat hulle dit nie alleen kan bereik nie. “Ons doen ’n beroep op alle sektore van die samelewing – regerings, organisasies, gemeenskappe en individue – om by ons aan te sluit in hierdie noodsaaklike stryd.
“Saam moet ons werk om ’n wêreld te skep waar elke vrou sonder vrees kan leef, waar haar regte gerespekteer word en waar haar lewe gewaardeer word,” sê Tseuoa.
