Central SA
Gemeenskap staan saam, herstel Bloemfonteinse paaie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:30 Sun, 01 Sep 2024
“Die gemeenskap vra reeds agt jaar lank vir die herstel van hierdie strate in die ruimtelike ontwikkelingsplan van die Mangaung Metro.”
Meer as 25 ton teer is reeds gebruik om twee strate in Bloemfontein, wat al byna in grondpaaie verander het, te herstel.

Voor die herstel. Foto verskaf
Twee paaie in Parkwes is die afgelope week herstel danksy die bydraes van besighede en gemeenskapslede, sê Tjaart van der Walt, ’n DA-raadslid en die DA se wetgewende lid en voorsitter van die komitee vir paaie, vervoer, en menslike nedersettings.
“Die herstelproses het van Maandag (26/8) tot Donderdag (29/8) plaasgevind, met meer as R60 000 wat reeds bestee is om die paaie weer padwaardig te maak.”
Van der Walt het die beduidende ondersteuning van plaaslike entiteite uitgelig en gesê die gemeenskap, spesifiek Hancor Dairy, Raubex, Kings Landing-studenteverblyf, die Universitas/Parkwes buurtvereniging, Wyk 23, sowel as individuele skenkings – wat wissel van R500 tot R2 000 – het alles bygedra tot die teer van hierdie strate.

Ná die herstel. Foto verskaf
Die terrein is Dinsdag (27/8) deur David van Vuuren, DA-LPW en voorsitter van die paaie-, vervoer- en menslike nedersettingskomitee in die wetgewer besoek, waar Calvinsingel en John Knoxstraat nou geteer is.
Volgens Van der Walt vra die gemeenskap reeds agt jaar lank vir die herstel van hierdie strate in die ruimtelike ontwikkelingsplan van die Mangaung Metro. Hy het ook opgemerk dat R45 000 reeds aan teer bestee is, met Raubex wat arbeid vir die herstelwerk verskaf het. Die werk sal volgende week voortgesit word.

Raubex het die arbeid vir die herstelwerk verskaf. Foto verskaf
Gemeenskapslede wat verder wil bydra, kan 'n e-pos stuur na universitasparkwes@gmail.com.
